Header Artwork
AfriForum bied finansiële ondersteuning aan die Totiushuismuseum

Soos menige huismuseums, gaan die Totiushuismuseum in Potchefstroom gebuk onder verval omdat noodsaaklike instandhouding nie altyd gedoen kan word nie. Die AfriForum-tak in Potchefstroom het dié nood raakgesien en by die organisasie se hoofkantoor aangeklop vir finansiële ondersteuning om noodsaaklike werk te doen.

Die elektriese bedrading is nagegaan en reggemaak waar nodig. Alle gloeilampe is vervang en die spreiligte buite is herstel of vervang. Ettiene Engelbrecht, die elektrisiën, het ’n stroombreker vervang en ’n dag-nagskakelaar vir die buiteligte ingesit. Hy het ook die stoeplig verstewig en gepolitoer. Engelbrecht het bevestig dat die huis ’n brandgevaar in die gesig gestaar het as hierdie werk nie gedoen is nie.

Die houtstoepreling, wat baie termietskade gehad het, is herstel en geverf. Die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit het die huis intussen vir termiete behandel, wat baie sal help.

Daar was baie waterskade aan die kombuis se buitemuur. Dit is binne en buite herstel, die pleister is vervang, die muur is weer geseël en daarna geverf. Die groot probleem is egter dat die geute tot niet is en dit veroorsaak die waterskade.

Elliot Ratikwane, die kontrakteur wat al die herstelwerk behalwe die elektrisiteit gedoen het, het die een sydeur gratis herstel en geverf. Dit is vir hom baie belangrik dat die museum volgens die oorspronklike tegnieke gerestoureer word.

Danell de Wet, museumhistorikus by die Totiushuismuseum, dra graag haar dank oor aan AfriForum vir die skenking waarmee baie noodsaaklike werk gedoen kon word. De Wet vra die gemeenskap om betrokke te raak by die museum en dit te besoek. Daar is ook ’n behoefte aan hulp in die tuin. Hulle sal graag plante wat tipies uit die vroeë 1900’s dateer, daar wil plant.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het haar dank aan die betrokke personeel en gemeenskap oorgedra vir hulle betrokkenheid by hierdie en ander museums in die omgewing. “Die owerhede gee bitter weinig om vir kultuur en tensy ’n gemeenskap soos die mense van Potchefstroom betrokke raak, gaan onvervangbare kultuurskatte verlore. Ons moedig mense aan om by die Totiushuis besoek af te lê wanneer hulle weer in die omgewing is.”

Potchefstroom Erfenis het ook sertifikate van erkenning vir die werk by die Totiushuismuseum oorhandig aan Bailey, Kappie van Wyk, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak, en Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Dit is heerlik om by ons erfenis se bewaring betrokke te raak. Ek wil regtig ’n beroep op die inwoners van Potchefstroom doen om betrokke te raak by ons erfenis en in besonder by die Totiushuismuseum. Dit is uiters dringend dat die geute vervang word om verdere waterskade te voorkom, en daarvoor sal donasies baie welkom wees. Donasies en ook kundigheid sal handig te pas kom,” sê Pretorius.

Raak vandag nog by AfriForum se Potchefstroom-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Skakel Leanie van Ronge by 072 314 1774 om aan te sluit.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN