Header Artwork
AfriForum bevraagteken handskoenhantering van Malema

AfriForum hou die manier waarop die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die klagte hanteer wat teen Julius Malema, leier van die EFF, aanhangig gemaak is met valkoë dop. Die NVG het te kenne gegee dat hulle reeds ’n besluit rondom die vervolging van Malema gemaak het, maar dat hulle weier om dié besluit bekend te maak.

Dít volg nadat AfriForum klagtes teen Malema aanhangig gemaak het nadat hy op die EFF se vyfjaarfeesvieringe in 2018 skote afgevuur het met ’n voorwerp wat soos ’n aanvalsgeweer lyk. Die EFF se woordvoerders het ontken dat die voorwerp ’n regte vuurwapen was en het later beweer dat dit klappers was wat in ritme met die voorwerp afgegaan het.

Die NVG en SAPD skroom om behoorlike terugvoer aan AfriForum, as klaer in hierdie saak, te gee. Dit is betreurenswaardig dat die vervolgingsowerhede ’n vorderingsverslag aan die media bekend stel, maar nie aan die klaer nie. In die geval dat AfriForum se telefoniese navrae wel beantwoord word, word hy in die duister gehou.

Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid vroeër vanjaar tydens ’n mediakonferensie aangedui het dat hy van voorneme is om ’n hofaansoek voor te berei om die NVG te verplig om ’n besluit te neem rondom die vervolging van Malema, het die NVG met nuwe ywer vorendag gekom om Malema te vervolg al dan nie.

Dit blyk uit die NVG en SAPD se benadering tot die klagte dat Malema anders hanteer word as ander landsburgers en dat sy belange eerder as dié van die klaer en breë gemeenskap seëvier.

“’n Blatante vertoon van ’n ernstige misdryf is die laaste ding wat in Suid-Afrika geduld kan word, veral wanneer die geweld wat tans in die land heers in ag geneem word. Die voorbeeld wat prominente politieke figure in die land stel, moet met groot omsigtigheid benader word. Indien sodanige voorbeeld nie strook met die daargestelde wetgewing nie, moet die nagevolge flink en deurslaggewend wees,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN