Header Artwork

Deur: Leandie Bräsler

Afknouery kan gedefinieer word as aggressiewe gedrag met betrekking tot die opsetlikheid van die aanvaller, afknouery wat op ’n gereelde en herhaaldelike basis plaasvind of die misbruik van mag. Afknouery kan bestaan uit slaan, skop, boks, dreigemente, die versprei van skinderstories, sarkasme, verkleinering van iemand en/of om ander te spot. Boelies probeer graag om beheer oor ander kinders te kry deur afknouende woorde te gebruik of om handgemeen te raak. Boelies tree vyandig en aggressief teenoor hul slagoffers op.

Dogters of seuns kan boelies wees of gedrag van afknouery toon. Seuns is meer geneig om ander direk af te knou met fisiese aksie soos slaan of skop, waar dogters meer indirek betrokke raak deur skinderstories te versprei of om ’n ander kind uit die groep te sluit. Afknouery by kinders begin al so vroeg as kleuterskool of selfs die eerste paar jare van laerskool. Dit kan verder eskaleer in die kind se laerskoolloopbaan, waar afknouery sy hoogtepunt bereik aan die einde van die kind se laerskoolloopbaan of aan die begin van sy hoërskoolloopbaan. Teen die einde van die kind se hoërskoolloopbaan mag hy in voorvalle betrokke raak waar hy kriminele- of bendegedrag toon. Dit is dus belangrik dat jy as ouer stappe neem van jou kind se jong ouderdom af sodat jou kind nie in ’n boelie verander nie.

In die vorige blog is die verskillende vorme van afknouery wat by skole voorkom, deurgegee – fisiese, verbale, emosionele, rassistiese, seksuele, en kuberafknouery. Daarna is die tekens dat jou kind dalk moontlik ’n slagoffer van afknouery is, uiteengesit (https://antiek.afriforum.co.za/raad-en-daad-boelies/). Dit is dus belangrik om aandag te gee aan kinders wat geboelie word, maar aan die keersy is dit van kardinale belang om ondersteuning aan die kinders wat self boelies is, te bied.

Die volgende tekens kan by jou kind identifiseer word indien hy self die boelie is:

  • Het vriende wat ander afknou;
  • Word gereeld na die hoof se kantoor gestuur, of gestuur vir detensie ná skool;
  • Blameer ander mense of kinders vir hul probleme;
  • Is behep met hul populariteit en reputasie onder leerders;
  • Is baie kompeterend;
  • Raak betrokke by fisiese en verbale gevegte/voorvalle;
  • Word vinnig kwaad of aggressief;
  • Het skielik nuwe besittings of ekstra geld wat nie verduidelik kan word nie; of
  • Neem geen verantwoordelikheid vir hul optrede nie.

Dit is nie altyd maklik om te erken dat jou kind dalk ’n boelie is nie. As ’n ouer wil jy nie hê jou kind moet ’n boelie bly vir die res van sy lewe nie, want situasies kan vererger soos ’n kind ouer word. Dit is daarom belangrik om op te let of daar enige van die bogenoemde tekens by jou kind verskyn en om deurlopend hul gedrag te moniteer.

Kinders weet dat dit verkeerd is om ander af te knou en dit is juis waarom hulle kies om dit te doen wanneer ouers nie in die omtrek is nie. Hierdie lei tot ’n toename in kuberafknouery, want die internet word gesien as ’n ouervrye herehuis. Omdat ouers in die donker gehou word oor wat die kinders daagliks aanvang (op die internet en op hul selfone) het hulle geen beheer oor die situasie en die negatiewe gevolge wat kuberafknouery vir kinders bring nie. Toesig deur ouers is dus noodsaaklik om afknouery te stop.

Dr. Joel Harber, ’n kenner van afknouery en die skrywer van die boek Bullyproof your Child for Life, sê dat jou kind moontlik ’n boelie is wanneer hy:

  • Ander vriende by hul groep uitsluit;
  • Aanhou met onaanvaarbare en onaangename gedrag wanneer jy reeds vir hom gesê het om daarmee op te hou;
  • Onverdraagsaamheid en minagting toon teenoor kinders wat as anders of vreemd beskou word;
  • Gereeld ander kinders spot of tart;
  • Deurlopende aggressiewe en wrede videospeletjies speel;
  • Diere seermaak; of
  • Skinder of ander kinders seermaak.

As ’n ouer het jy ’n geweldige invloed op jou kind se lewe. Ons is almal gewone mense wat soms gedrag van afknouery toon. Dit is natuurlik en beteken nie noodwendig dat ons slegte mense is nie. Dit is dus belangrik dat ons oop en eerlik oor ons eie gedrag moet dink en dan vra – wys my kind ook hierdie tipe gedrag?

Die volgende is van kardinale belang:

  • Ouers moet onder geen omstandighede die boeliekind verwerp nie, maar hulle juis meer liefdevol hanteer.
  • Ouers moet geensins huiwer om deskundige hulp te vra nie.

My kind is ’n boelie. Wat kan ek daaromtrent doen?

Wanneer jou kind as ’n boelie beskou word, is dit jou plig as ouer om hulle daarvan bewus te maak dat dit volkome ontoelaatbaar is. Jy kan die volgende aan jou kind vertel:

  • “Jy kan nie saam met kinders tyd spandeer wat ander afknou nie”
  • “Ek of ’n ander volwassene sal toesig oor jou hou. Wanneer ander kinders by ons huis kom speel, moet julle speel waar ek julle kan sien”
  • “Bly weg van die kind/kinders wat jy afgeknou het”
  • “Gaan direk skool toe of kom direk huis toe ná skool” (Indien moontlik, reël met ander volwassenes om jou kind by die skool af te laai of om hom by die skool te gaan haal.)
  • “Wanneer jy by ’n ander kind gaan kuier, sal ek die ouer van daardie kind skakel om te hoor of hulle ook by die huis is.”

Hoe kan ek my kind dissiplineer?

Maak gebruik van positiewe dissipline – In Hebreërs 12:6–7 staan daar: “Want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem. Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as Sy kinders. Is daar miskien ’n kind wat nie deur sy vader getug word nie?” Spreuke 13:24 sê weer die volgende: “Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is.” Dit is belangrik om kinders op positiewe maniere op te voed. Daar is ’n duidelike verskil tussen dissiplinering en mishandeling. Kinders moet dus deur ouers geleer word dat dit verkeerd is om aan ander kinders te slaan.

Gebruik prosesse van teruggawe – Wanneer jou kind ’n ander kind se besittings (soos speelgoed en klere) steel of vernietig, moet hy self rekenskap gee vir sy dade en daarvoor betaal. Jy kan jou kind klein takies in die huis laat verrig soos om skottelgoed te was, om te betaal vir dit wat hy vernietig of gesteel het. Jy kan ook jou kind se sakgeld ’n ruk lank wegvat sodat hy kan betaal vir dit wat gesteel of beskadig is.

Leer jou kind empatie en omgee – Kinders wat geklassifiseer word as boelies het ’n tekort aan empatie en om ’n gevoel van omgee vir ander te wys. Dit is wel belangrik dat hulle geleer word hoe hul aksies en geaardheid ander kan beïnvloed. Wanneer ouers of volwassenes begin uitvra oor spesifieke situasies begin boelies dink aan hul optredes en hoe dit ander op ’n negatiewe manier kan beïnvloed.

’n Boelie reageer eerder as wat hy dink oor sy aksies. Ouers kan dus hul kinders help om hul gevoelens te identifiseer en help om dit te beheer. Ouers moet hul kinders aanmoedig om oor hul gevoelens, aksies en hul houdings teenoor mense te dink. Dit sal boelies help om te leer hoe om hul gevoelens en emosies te hanteer op so ’n wyse dat ander in die proses nie seerkry nie. Om ’n boelie se geaardheid en optredes te verander vat wel tyd en moeite, daarom moet ouers die boompie buig solank hy jonk is.

Oor die algemeen skiet boelies tekort aan sosiale vaardighede. Skole, welsynsorganisasies en jeuggroepe stel gewoonlik programme saam wat kinders help met die ontwikkeling van empatie, omgee en positiewe sosiale vaardighede. Ouers kan ook met die skool se sielkundige in kontak tree indien jou kind afknouertekens toon as gevolg van aggressie, frustrasie of selfs depressie.

Bronne:

Care.com. N.d. Signs Your Child is a Bully or Being Bullied. Beskikbaar by: https://www.care.com/c/stories/3305/signs-your-child-is-a-bully-or-being-bullied/. (Toegang 24 April 2017)
Raminhos, Cláudio, Carmo, Gaspar, Carvalhosa en Candeias. 2016. A serious game-based solution to prevent bullying. International Journal of Pervasive Computing and Communications. 12(2):194–215.
Stopbullying.gov. 2017. Warning signs for bullying. Beskikbaar by: https://www.stopbullying.gov/at-risk/warning-signs/index.html. (Toegang 12 April 2017).\\r
Unesco. 2017. School Violence and Bullying: Global Status Report. Frankryk, Parys: Unesco.
University of New Hampshire Cooperative Extension. N.d. Why Do Some Children Bully Others? Bullies and Their Victims. Beskikbaar by: http://blogs.cornell.edu/ccesuffolkfhw/files/2013/07/NH-Why-Do-Some-Children-Bully-26s07gn.pdf. (Toegang 25 April 2017)

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN