Die Britse oudpremier Margaret Thatcher het eens gesê dat sy eerste minister geword het met die doel om Brittanje van ’n afhanklike samelewing na ’n selfstandige samelewing en van ’n “gee-dit-vir-my-nasie” na ’n “selfdoennasie” te verander. In die gees hiervan gryp vrywilligers van AfriForum-takke reeds die afgelope 15 jaar met ’n selfdoenhouding in om staatsverval en swak dienslewering aan bande te lê. Sewe taklede het aan Jhua-Nine Wyrley-Birch vertel waarom hulle dikwels hul naweke prysgee om hul dorpe op te knap.
Jan Vermaak: Kempton Park-tak in Gauteng
Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak, sê tong in die kies dat taklede nie net vrywilligers is nie, maar eerder niebetaalde personeellede. “Ons het net soveel trots in die werk wat ons op gemeenskapsvlak doen as wat beroepsmense in hul professie het.” Vermaak kan mense mobiliseer en glo daarin om goeie samewerking tussen AfriForum, die SAPD, raadslede en ander organisasies te kweek. “Ons almal het dieselfde einddoel en maak mekaar se hande net sterker.”
Sy tak het verlede jaar baanbrekerswerk met die oprig van hul mobiele gesondheidsentrum gedoen en fokus ook op veiligheid, skoonmaakprojekte en die instandhouding van hul vyf uilhuise, wat reeds in 2019 opgerig is.
Vermaak glo ook in ’n vee-voor-jou-eie-deur-benadering. “Ek voel nie dat ek eenvoudig net ‘die staat se werk vir hulle doen’ soos mense sê nie. Ek doen wat ek doen eerstens vir myself, want ék wil skoon wees, ék wil trots wees op my omgewing en ék wil veilig voel in my woonbuurt.”
Tommy van Zyl: Kaapstad-Noord-tak in die Wes-Kaap
“As persoon was my hart nog altyd by my mense en die bou van ’n gesonde kultuur rondom Afrikaners.”
Van Zyl, voorsitter van die tak, het aanvanklik as buurtwagpatrolleerder by AfriForum aangesluit en was self betrokke by van die eerste takstigtings in die Wes-Kaap. Hy sê hy glo in die krag van opleiding, volhoubare projekte en om ’n ruimte deur AfriForum-takke te skep waardeur jong leiers gekweek kan word. Sy tak fokus ook gedurig op veiligheid en gaan hul strukture uitbrei met die vestiging van AfriForum se splinternuwe Wes-Kaapse kantoor.
Hy het geen tyd vir kritici wat van die kantlyn af kla nie. “Moeder Theresa het gesê as jy die wêreld wil verander moet jy by jou huis begin en dit het sy gesê terwyl sy tussen mense gesweet en gewerk het. Jy het haar nooit op ’n rusbank gesien sit en bevele uitdeel nie, sy het deur dade gelei.”
Quintus Rossouw: Tzaneen-tak in Limpopo
Rossouw is voorsitter van die tak en glo dat jy nie in probleme moet vaskyk nie. Hy pak sy dorp se uitdagings met ’n positiewe ingesteldheid aan. “Ek het by die plaaslike AfriForum-tak en -buurtwag aangesluit met die wete dat ek ’n verskil kan maak vir én saam met die gemeenskap. Ek kry werklik genot daaruit om goeie dade vir ander te doen.”
Rossouw moedig mense aan om fisies by hul plaaslike takstrukture betrokke te raak, hetsy deur opknappingsprojekte te ondersteun of net saam patrollie te kom ry. Oor negatiewe kommentaar van mense op sosiale media oor AfriForum se doen en late haal hy Spreuke 15:1–2 aan: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom. Die tong van die wyse getuig van grondige kennis, maar die mond van die dwase laat sotheid uitborrel.”
Ingrid Human: Bethal-tak in Mpumalanga
“As jy deur Bethal ry en ’n slaggat sien wat opgevul is, is die kans goed dat dit deur die plaaslike AfriForum-tak gedoen is,” sê Human, voorsitter van die tak.
Dié veelsydige tak vul nie net slaggate op nie, maar het ook watertenks opgerig wat 30 000 liter water aan inwoners kan voorsien wanneer die watertoevoer onderbreek word. Taklede werk tans hard aan ’n gemeenskapsgroentetuin en verwyder gereeld vullis.
Hoewel dit met tye na ’n ondankbare taak mag klink, meen Human dat inwoners die werk wat AfriForum doen raaksien. En as mense haar vra waarom AfriForum die staat “bederf” deur hierdie werk te doen, antwoord sy: “Jy moet besluit of jy jou dorp tot niet wil laat gaan of jou negatiewe ingesteldheid gaan laat staan.”
Fanie Kruger: Parys-tak in die Vrystaat
Dit is min dat jy op ’n Saterdag deur Parys sal ry sonder om AfriForum-taklede in hul kenmerkende oranje hemde te sien slaggate opvul, stoptekens oprig of parke skoonmaak. “Ons het gesien dat daar ’n groot behoefte aan vrywilligers in Parys is en vele hande maak ligte werk,” sê Kruger, voorsitter van dié tak.
Hy en sy vrou Jenny, asook hul drie kinders gryp naweke saam in om slaggate op te vul. Personeellede van sy privaat sekuriteitsmaatskappy sit dikwels óók hand by. “Ons doen dit vir ons én ons nageslagte en ons wil vir hulle ’n goeie voorbeeld stel.”
Sy tak is verder verantwoordelik vir die stig van ’n selfdoengroep waartydens verskeie instansies in samewerking met AfriForum byna elke tweede Saterdag opknappingswerk in en om die dorp doen.
Johan Crous: Hessekwa-tak in die Wes-Kaap
“Ek wens meer mense in die land kan die goeie werk sien wat AfriForum-personeel veral agter die skerms doen. Die ondersteuning, opleiding en opbeuring wat ons kry maak dat ons as vrywilligers sterker gemeenskappe kan kweek,” sê Crous, voorsitter van die tak. Dié tak fokus daarop om proaktief misdaad in hul omgewing te bekamp en brandbestryding- en rampbestuurvermoëns te verbeter.
Wanneer dit by vrywilligerswerk kom, glo hy dat jy uitkry wat jy insit. “AfriForum sê dikwels vir ons ‘wees julle die voertuig en ons sal die brandstof voorsien’. Ek is trots om ’n voertuig vir só ’n uitmuntende organisasie te wees.”
Bianca van der Westhuizen: Christiana-tak in Noordwes
“Dit gee my vreugde in my hart om te weet wat ons as AfriForum doen, doen ons vir ons kinders se toekoms.” Van der Westhuizen het by AfriForum aangesluit nadat haar gesin die slagoffers van ’n huisroof was. “Die eerste mense op die toneel was AfriForum-buurtwaglede. Dít het my laat besef dat ons op ons tak en buurtwag kan staatmaak om ons by te staan en ek wou deel van dié span word.”
Christiana is ’n dorp wat volgehoue onderbreking van munisipale dienslewering ervaar en daarom werk die tak hard om hulle plaaslike vullisterrein reg te ruk en paaie in stand te hou. Hulle het ook verlede jaar ’n groot rol gespeel om behoeftige mense by te staan tydens die streng inperkingstydperk. “Sonder AfriForum sou alles vinniger nog méér agteruitgegaan het. Hulle het vir my en ek dink talle ander mense al bewys ons kan as ’n gemeenskap saamstaan en ons dorpe self beter maak.”