Die AfriForum-tak in Parys het deur die loop van Aprilmaand sowat 1,6 ton teer gebruik om slaggate in dié dorp op te vul. Hoewel dit reeds ’n groot verskil aan die dorp se paaie maak, is daar só baie slaggate dat dit net te veel is om alles uit die tak se begroting te herstel.
“Die tak wil dus ’n beroep op inwoners doen om teer te skenk sodat ons hierdie projek na nuwe hoogtes kan voer. Vele hande maak ligte werk en hoe meer inwoners betrokke raak, hoe meer slaggate kan opgevul word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Die tak het vandeesmaand ook daartoe bygedra om 15 nuwe skoolbanke vir die plaaslike laerskool aan te koop. “Ons beskou dit as ’n belegging in die jeug van ons dorp. Die skole het groot uitdagings tydens die COVID-19-pandemie ervaar en ons is dankbaar dat ons hulle kon help,” sê Pieter Struwig, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.
Intussen het AfriForum se Parys-buurtwag in samewerking met Parys Selfdoen die plaaslike museum geverf en rondom die museum skoongemaak. Dieselfde span het ook begin om die ou begraafplaas skoon te maak. Dit is ’n reusetaak wat nog nie afgehandel is nie, maar die projek gaan voort. Inwoners wat geliefdes het wat daar begrawe is word versoek om te kom help.
Volgens Fanie Kruger, buurtwagleier, word talle patrollies deur die buurtwag gery maar is daar steeds inwoners wat nie veiligheidsbewus is nie. “Inwoners moet oplet wat om hulle aangaan en hekke en deure gesluit hou. Meld ook die insidente aan en maak sake aanhangig, al voel dit nie noodsaaklik nie.”
“Dit is lekker om te sien dat al hoe meer inwoners by selfdoenprojekte betrokke raak. ’n Mens het die keuse of jy self hand aan die ploeg gaan slaan en of jy gaan bly kla en alles om jou los om tot niet te gaan,” sê Pretorius.
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: Skakel Jenny Kruger by 082 090 2563.