Die AfriForum-buurtwag in Messina het op Vrydag 16 April die SAPD bygestaan met die uitvoer van 12 inhegtenisnames. Dit volg na die SAPD die buurtwag genader het vir bystand en ondersteuning tydens ’n aksie wat Vrydagaand op die N1, wat deur die dorp loop, gehou is. Dit is ook die hoofroete na die Beitbrug-grenspos.
Een van die inhegtenisnames was vir dronkbestuur. Die SAPD het die voertuig afgetrek en die bestuurder het in ’n ander voertuig vasgery wat ook besig was om deursoek te word. Die bestuurder het probeer om homself te verset teen die inhegtenisname maar die SAPD het met die bystand van buurtwaglede die inhegtenisname uitgevoer. Later die aand was daar nog ’n inhegtenisname vir dronkbestuur.
Twee verdagtes is ook in hegtenis geneem vir die onwettige besit van voorskrifmedisyne Benylin en kodeïen. Die medikasie was in 25 liter dromme weggesteek en dié voertuig was op pad na die grenspos.
Daar is ook agt onwettige immigrante in hegtenis geneem tydens die operasie.
Na die aksie tesame met die SAPD, het die buurtwag ook in die vroeë oggendure ’n sigbaarheidspatrollie in die dorp gehou.
“Die SAPD het die bystand van gedissiplineerde buurtwagte nodig wat binne die raamwerk van die wet optree. Die land se misdaad is buite beheer en buurtwagte se sigbare optrede en bystand aan die SAPD is dus van die uiterste belang,” sê Kobus Boshoff, voorsitter van die AfriForum-tak in Messina.
“Hierdie buurtwag wys weereens dat ’n gemeenskap wat homself organiseer, ’n onmisbare diens kan verrig om veiligheid in die area te verseker. Messina is ’n belangrike grensdorp, en ’n parate en opgeleide buurtwag daar, het ’n rimpeleffek op die hele provinsie,” sê Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.
Om betrokke te raak by AfriForum se buurtwag in Messina, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).