Header Artwork
Buurtwagte verhoog sigbaarheid tydens Paasnaweek

Die AfriForum-buurtwagte in Limpopo het die afgelope langnaweek verhoogde sigbaarheidsaksies gehou. Die Paasnaweek hou altyd ’n risiko in vir padgebruikers en vakansiegangers vanweë die verhoogde verkeerslading, sowel as ’n toename in misdaad.

Die AfriForum-buurtwagte in Naboomspruit, Potgietersrus en Messina het deur die loop van die naweek op verskeie maniere hulp aan hulle plaaslike gemeenskappe en wetstoepassers verleen.

In Naboomspruit en Potgietersrus het die buurtwagte gehelp om verkeer te reguleer wat op die R101 deur die dorpe beweeg. Die buurtwag in Potgietersrus het ook die aand van 1 April alle voertuie wat op die R101 deur die dorp beweeg het, se nommerplate met ’n mobiele stelsel nagegaan.

Die buurtwagte het hulp verleen waar daar nood was. Die buurtwag in Potgietersrus het ’n dringende versoek om hulp ontvang vir bystand tydens ’n skietvoorval. Die buurtwag het onmiddellik gehelp om die toneel te beveilig en mediese dienste te ontbied. Die slagoffer het egter reeds gesterf aan skietwonde aan die hoof. Die buurtwag het die toneel oorgegee aan die SAPD.

Philip Bower, buurtwagleier van AfriForum se Potgietersrus-tak, het al die buurtwaglede en SAPD-lede bedank wat deelgeneem het. “Lede het hulle langnaweek opgeoffer in diens van die gemeenskap. Dit is gewone inwoners wat saamstaan om Potgietersrus te beveilig. Oor ’n naweek wat ons die belangrikste Offer van alle tye gedenk, is dit ’n voorreg om self ook op te offer en te dien. Ons nooi almal wat belangstel om aan te sluit by die buurtwag sodat ons mekaar kan bystaan.”

“Hierdie naweek kon ons weer die waarde sien van buurtwagte wat in ’n netwerk met mekaar saamwerk. AfriForum se nasionale netwerk van buurtwagte is uniek wat koördinering, dissipline en gestandaardiseerde opleiding betref, en tree binne die raamwerk van die wet op. Misdadigers hou hulself nie by grense nie, daarom is dit baie belangrik dat ons kanale bou om met mekaar te kommunikeer en sinkroniseer. Hierdie buurtwagte het weer eens gewys watter belangrike rol die gemeenskap kan vertolk in die ondersteuning aan wetstoepassers om deur sigbaarheid en samewerking die dorpe en omliggende omgewings te beveilig,” sê Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Om betrokke te raak by AfriForum se Buurtwagte in Limpopo, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN