Deur Alet Rademeyer
Regter Frits van Oosten het vandeesweek in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria ’n groep boere en Zimbabwiese maatskappye se aansoek om met ’n skadevergoedingseis van R2 miljard teen die Suid-Afrikaanse regering voort te gaan, toegestaan.
Die eis spruit uit ekonomiese verliese wat ses Suid-Afrikaanse en vier Zimbabwiese boere asook 15 Zimbabwiese maatskappye gely het toe Zimbabwe onder wyle pres. Robert Mugabe suksesvolle boere se plase in die land sonder vergoeding afgevat het.
Van Oosten het die voornemende eisers se aansoek om kondonasie vir die indien van hul eis teen pres. Cyril Ramaphosa en die regering goedgekeur. Ramaphosa en die regering het die eis teengestaan en aangevoer dat die eisers se hofstukke nie voldoende bewerings bevat om hul aansoek te ondersteun nie.
Die eisers voer aan dat hul destyds hul eise voor die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) ingedien het of wou indien om vergoeding van Zimbabwe te eis vir die verlies van hul plase. Hulle voer aan die eis kon nie voortgaan nie omdat Jacob Zuma, voormalige president, in 2011 ’n protokol onderteken het om die SAOG-tribunaal te ontbind en gevolglik kon die eis nie voortgaan nie.
Hul kondonasie-aansoek was gegrond op ’n uitspraak van die Konstitusionele Hof wat bevind het Zuma het nie die reg gehad om die protokol te onderteken nie en dat Suid-Afrika ongrondwetlik opgetree het deur die protokol te onderteken wat tot ontbinding van die tribunaal gelei het. Die hof het bevind Zuma het die eisers se eiendomreg en hul reg tot geregtigheid geskend. Hy is ook beveel om die ondertekening van die protokol terug te trek.
Ramaphosa, wat toe reeds president was, het dit teruggetrek.
Die eisers het ná die Konstitusionele Hof se uitspraak die regering in Desember 2018 ingelig dat hul van voorneme is om te eis. Die kondonasie-aansoek is ingedien omdat die staatsprokureur hul ingelig het dat hul eis verjaar het.
Van Oosten het in die eisers se guns beslis hoewel hy bevind het dat hul hofstukke nie genoeg bewyse bevat om te bepaal of daar ’n direkte verband is tussen Zuma se ondertekening van die protokol en hul beweerde skade nie. Hulle het nou grasie tot 29 Januarie 2021 om hul hofstukke aan te pas.
Willie Spies, regverteenwoordiger van AfriForum en die Zimbabwiese boere, het die voorlopige uitspraak verwelkom.
Hy sê die boere wat deur Zimbabwe se grondgrypprogram geraak is, voer sedert November 2009 ’n stryd om geregtigheid in die Suid-Afrikaanse howe. AfriForum is destyds deur leiers van georganiseerde landbou in Zimbabwe genader nadat dit duidelik geword het dat die burgerlike samelewing in dié land in duie gestort het wees Zanu-PF se beleide.
“AfriForum het finansiële bystand gelewer in hierdie uitgerekte stryd wat reeds twee keer in die Konstitusionele Hof gedraai het en waartydens die boere suksesvol was. Die litigasie het teen ’n groot koste gekom en sou nie sonder die steun van AfriForum moontlik gewees het nie.”