Die AfriForum-tak in Bethal het op 5 Desember in samewerking met inwoners van Bethal, slaggate in Buffelstraat herstel.
Die pad is tydelik met doleriet gevul tot die nuwe besending teer vir die pad afgelewer word. Die doleriet help om die basis van die pad meer te beskerm en help ook dat die slaggate nie erge skade aan inwoners se voertuie aanrig nie. Die pad se dreineringslote is ook skoongemaak en die gras is aan weerskante van die pad gesny.
Hierdie projek is reeds aan die begin van 2020 deur inwoners aangepak en met behulp van AfriForum. Die inperkingstyd het die projek egter tydelik in die wiele gery.
Die vrag teer word betaal met geld wat tydens ’n fondsinsameling deur die inwoners van Bethal ingesamel is. AfriForum se Bethal-tak help ook om die uitstaande fondse en vervoer te betaal.
“Die Govan Mbeki Munisipaliteit versuim om paaie in stand te hou en te herstel – daarom vat ons eienaarskap en herstel dit self,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder in die Laeveld.
Sluit aan by AfriForum se Bethal-tak, SMS “Bethal” na 45350 (R1)