Header Artwork
AfriForum-regspan kry opdrag om teen Eskom en Lekwa Plaaslike Munisipaliteit op te tree

Die burgerregteorganisasie AfriForum en sowel Eskom as die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit in Standerton kan moontlik in die hof koppe stamp oor die inwerkingstelling van bykomende beurtkrag weens die munisipaliteit se agterstallige rekening.

Die kragreus pas tans nie net landwye beurtkrag toe nie, maar ook bykomende beurtkrag in die Lekwa munisipale gebied. Dit laat die gebied met slegs ses tot agt uur van krag per dag. In baie gevalle betaal verbruikers hul elektrisiteitsrekeninge getrou aan die munisipaliteit, maar die munisipaliteit versuim om dit aan Eskom oor te betaal. AfriForum het sy regspan opdrag gegee om die howe te nader vir ’n bevel om dié besluit te hersien indien Eskom nie hierdie wanpraktyk staak nie.

“Eskom kan nie agter ’n kontraktuele remedie skuil en ’n onbillike proses volg deur hul besluit om bykomende beurtkrag toe te pas nie. Eskom neem dié besluit – wat grootskaalse skade aan gemeenskappe aanrig – in die afwesigheid van enige openbaredeelnameproses. Die besluit is beslis ongrondwetlik en voldoen nie eens aan die standaarde van die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 nie,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake.

Dit is vreemd dat Eskom hierdie klousule oral in werking stel waar munisipaliteite reeds agterstallig is. “Dit blyk dat Eskom hierdie klousule gebruik om druk op munisipaliteite te plaas om hul agterstallige skuld te betaal. Daar is ’n reeks ander remedies beskikbaar wat Eskom kan gebruik, maar Eskom verkies om die een te gebruik wat die meeste skade berokken,” sê Mostert.

Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, sê Eskom skep nou ’n geval waar hulle die verbruik van elektrisiteit kelder (deur die maksimumaanvraagklousule te gebruik). “Dit kan moontlik tot ’n kragtariefverhoging lei. Eskom kan nie self ’n situasie skep, maar later hoër tariewe van die verbruiker verwag nie. Hulle moet billike prosesse volg wat aan toepaslike wetgewing voldoen.”

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN