Die AfriForum-tak in Bethlehem het op 21 September 2019 vyftig bome by die Charlotte Theron-kinderhuis geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek.
Volgens Jp Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 3 000 bome te plant.
“Deur inheemse bome te plant bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Nel.
AfriForum fokus jaarliks op ’n boomspesie wat algemeen voorkom sowel as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig egter sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul spesifieke omgewings aard.
“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Bethlehem onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Nel.
Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms.
Raak by AfriForum betrokke: SMS jou dorp se naam na 31481 (R1).