Deur Johan Kloppers
Voordat ’n mens kan vra wat die simptome van trauma is, is dit nodig om te verstaan wat trauma beteken.
Duisende mense oorleef traumatiese gebeure en ervaar daagliks trauma; selfs familielede en vriende van slagoffers is getraumatiseerd ná gebeure. Enige gebeurtenis wat jou oorweldig, alleen en bevrees laat voel, is ’n traumatiese ervaring. Dit hoef nie altyd met ’n fisiese gebeurtenis verband te hou nie – dit gaan meer oor die impak wat só ’n gebeurtenis op jou as mens het.
Trauma is ’n natuurlike reaksie op ’n onnatuurlike gebeurtenis. ’n Mens se lewe word in ’n oogwink onherroeplik verander en elke mens verwerk trauma op ’n ander wyse. Dit is baie belangrik dat misdaadslagoffers self die keuse maak om hulp te vra. ’n Mens kan niemand dwing om hulp te vra nie, maar jy kan uitreik en slagoffers laat besef hulle is nie alleen nie.
Elke lid van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid besef die heel belangrikste ding is om daar te wees vir elkeen wat trauma ervaar. Dit is ons doel en ideaal om elke slagoffer by wie ons betrokke raak, te ondersteun, die seer ligter te maak en hulle te help om weer met hoop na die toekoms te kyk en daarop te bou. Die eenheid stap die pad in deernis saam met die slagoffers en maak ’n verskil sodat innerlike genesing kan plaasvind.
Die Trauma-ondersteuningseenheid verskaf ’n baie unieke en persoonlike diens aan slagoffers van geweldsmisdaad. Persoonlike kontaksessies met slagoffers, asook telefoniese opvolgsessies is van kardinale belang. Elke geval is uniek omdat elkeen trauma anders verwerk.
Die eenheid verskaf emosionele en praktiese ondersteuning aan misdaadslagoffers deur hulle so gou moontlik ná die traumatiese voorval te besoek om die impak van die trauma te verlig en die herfunksionering van die persoon te bespoedig. Dít is broodnodig aangesien die voorval vir die meerderheid iets van die verlede is, maar die nagevolge blywend is.
Die eenheid bied ook emosionele bemagtiging en ondersteuning aan slagoffers oor die SAPD se ondersoekproses en die slagoffer se regte om sekondêre trauma en viktimisering deur die strafregstelsel te verminder. Slagoffers word na hofsake vergesel, en met verloop van tyd is die traumaspan soms die enigste mense wat die slagoffers bystaan of na wie slagoffers hul wend vir ondersteuning. Ons word byna deel van hul familie, ’n verlenging van die familie wat nie meer daar is nie of nie daar kan wees nie. Van die eenheid se gevalle duur al vir langer as vier jaar, maar ons probeer om hoopvol te wees en moed te skep om met die volgende hofverskyning weer daar te wees.
Soms – veral in gevalle waar jong kinders getraumatiseerd is – is dit nodig om die slagoffers te assesseer en na professionele persone te verwys sodat hulle terapeutiese en gespesialiseerde behandeling kan ontvang.
Iemand wat erge trauma beleef of verliese gely het, kan baie eensaam voel, asof niemand werklik verstaan hoe hulle voel nie. Ons verstaan nie werklik hoe daardie persoon voel nie, al het ons dieselfde pyn of trauma beleef. Elke mens ervaar sy emosies op ’n ander manier omdat ons uniek geskape is. Daarom is elke geval vir ons ’n klassieke voorbeeld van ’n tipe vriendskap wat met elke slagoffer gevorm word.
Soms is daar nie woorde om te help nie, maar wel ’n skouer om op te huil en ’n hand om vas te hou; om saam te sit en te gesels oor die goeie en mooi herinneringe. Hier is ons teenwoordigheid van véél meer waarde as enige leë woorde wat glad nie troos bring nie.
Daarom probeer die trauma-ondersteuningsbeamptes om altyd daar te wees vir slagoffers en hulle te verseker dat ons hulle nie alleen sal los nie, maar hierdie moeilike pad saam met hulle sal loop.
Jy kan ’n verskil maak deur net daar te wees en te luister.
Johan Kloppers is ’n slagofferondersteuningsbeampte by AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid.