Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandeesweek vordering gemaak in die saak oor rassediskriminasie in skolenetbal nadat vyf ouers wie se kinders deur Netbal Suid-Afrika (NSA) benadeel was, ingestem het om deel te vorm van AfriForum se hofsaak by die Internasionale Netbal Federasie (INF).
Die INF het AfriForum op 13 November ingelig dat AfriForum slegs ’n beroep op sy dissiplinêre en dispuutoplossingsregulasies kan doen indien die burgerregteorganisasie die persoon/persone kan identifiseer wat binne die jurisdiksie van die INF val en namens wie die klag ingedien word.
AfriForum het besluit om ’n klag by die INF in te dien nadat blatante rassediskriminasie tydens die Gautengse skolenetbalproewe in 2019 voorgekom het. AfriForum het klinkklare bewyse dat kwotas toegepas is en byna 40 hoërskoolnetbalspelers hul plekke in spanne weens die toepassing van rassekwotas verloor het. In die organisasie se tweede brief aan die INF dui AfriForum aan watter ouers bereid is om hul name bekend te maak sodat die saak ondersoek kan word.
“AfriForum is van mening dat die getuienis ten minste op ’n prima facie-saak teen NSA dui van oortredings van die statute en regulasies van die INF. Aangesien AfriForum nou deur vyf ouers in hierdie saak ondersteun word, glo ons dat die federasie AfriForum se klag na ’n dissiplinêre paneel sal verwys,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.
“Rassediskriminasie beïnvloed atlete van alle rasse. Dis pas weer bewys toe die Mpumalanga Sunbirds in die Telkom-netballiga hul wedstryd in die eerste afdeling B-halfeindronde moes afstaan omdat dié span te veel swart spelers op die baan gehad het. Dit versterk AfriForum se saak teen die onregverdigheid van rassekwotas” sluit van Zyl af.