Die wyse waarop die Suid-Afrikaanse regering regstellende aksie tot dusver toegepas het, is absurd.
Deur ʼn persoon op grond van sy ras te keur, is teen die VN se konvensie en deur daarmee voort te gaan loop Suid-Afrika die gevaar om na apartheid terug te keer.
Só lui die verslag van die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD), waarin sterk kritiek uitgespreek word oor wat beskryf word as “die Suid-Afrikaanse regering se gebruik van ou apartheidsklassifikasies in die aanbieding en toepassing van regstellende aksie”.
Die verslag volg nadat Solidariteit en AfriForum in 2015 ʼn skaduverslag by die VN ingedien het waarin die regering se rassebenadering tot regstellende aksie uitgewys is. Die verslag is later aangevul om rassekwotas in sport te takel.
Na afloop van die vakbond en burgerregte-organisasie se besoek aan die VN in Julie vanjaar, is die saak van regstellende aksie in Suid-Afrika op die CERD-komitee se agenda geplaas en is dit ook in die proses om aangespreek te word volgens die komitee se diplomatieke proses.
Dié proses gee die Suid-Afrikaanse regering vier jaar tyd om terugvoer te gee by die volgende CERD-sitting oor die impak van regstellende aksie op indiensneming, opleiding en politieke en openbare sake. Die regering moet ook bewyse lewer dat hy voldoen aan die komitee se konvensies vir die uitwissing van rassediskriminasie.
In ʼn mediaverklaring wat deur die CERD uitgereik is na aanleiding van Suid-Afrika se verslag, sê dié VN-komitee dat Suid-Afrika se benadering tot regstellende aksie rigied en kwantitatief eerder as kwalitatief is. Die komitee het daarop aangedring dat Suid-Afrika se regstellende aksie belyn moet word aan die hand van die komitee se aanbeveling nr. 32 van 2009, wat voorskryf wat spesiale maatreëls (regstellende aksie) behels en hoe dit toegepas moet word.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit moet die VN-komitee se waarskuwing dat die regering se rasseklassifikasie op ou apartheidskategorieë gebaseer word, as ʼn uiters ernstige vermaning beskou word.
Hy meen die regering gaan sukkel om die komitee te oortuig dat sy stelsel van rassekwotas voldoen aan hul konvensies en beginsels.
“Die proses wat nou aan die gang gesit is, is vir ons ʼn groot deurbraak. Vir die eerste keer is regstellende aksie in Suid-Afrika nou formeel op die VN se agenda en moet die land ʼn formele verduideliking vir dié beleid gee.”
Volgens Hermann het die proses gesloer omdat Suid-Afrika, wat wel ʼn lidland van die CERD is, en dus elke twee jaar verslag moet doen oor hoe hul beslag aan die komitee se konvensies gee, sy verslag agt jaar laat ingedien. En boonop is regstellende aksie nie daarin hanteer nie.
Wat die pad vorentoe betref, beplan Solidariteit en AfriForum om onder meer deel te neem aan die Suid-Afrikaanse regering se konsultasieproses oor regstellende aksie, wat opgevolg sal word met die opstel van hul nuwe verslag wat by die 2020-sitting van die CERD ingedien moet word.
ʼn Internasionale kongres oor internasionale regstellendeaksiepraktyke is ook in die pyplyn.
Verder beplan die organisasies om steeds as waghond op te tree oor die regering se toepassing van regstellende aksie en om terugvoer daaroor by die volgende sitting van die CERD-komitee te gee.
“Ons is verras en beïndruk met die uitkoms van die VN-komitee se verslag. Ons droom was net om op die komitee se agenda te kom. Die verslag het ons verwagtinge oorskry,” het Hermann gesê.