Header Artwork
Virtuele debatskompetisie laat hoërskoolleerders beslis nie sink   

Die burgerregteorganisasie AfriForum bied al vir die afgelope vyf jaar ’n uiters suksesvolle onvoorbereide debatskompetisie genaamd Dink of Sink aan. Dié kompetisie is egter vanjaar soos baie ander kompetisies genoodsaak om die gewone formaat vir ’n virtuele formaat te verruil weens COVID-19.

’n Virtuele Dink of Sink-kompetisie is geskep en hoërskoolleerders kon steeds in spanne van drie lede, met die nodige COVID-19-regulasies in plek, inskryf en aan hierdie populêre kompetisie deelneem. Oor ’n tydperk van vyf maande is 55 inskrywings ontvang, waarvan 23 junior inskrywings en 32 senior inskrywings.

“’n Nuwe plan is bedink en dis wonderlik dat Dink of Sink hierdie jaar steeds kon voortgaan en nie gesink het nie. Ons is baie bly oor al die inskrywings. Ons was maar bekommerd dat leerders onseker sal wees en dalk nie sou wou deelneem nie, maar ten spyte van ’n moeilike en onsekere skooljaar het leerders steeds bewys dat hulle aanpasbaar is en ’n behoefte het aan buitemuurse kultuuraktiwiteit,” sê Carien Bloem, bestuurder vir Onderwyssake by AfriForum.

Onderwerpe het net soos vorige jare oor aktuele sake gehandel en is uniek vir elke span ontwikkel sodra hul inskrywing aanlyn ingestuur is. Spanne moes hul debat dan opneem binne ’n sekere tydperk en weer op die Dink of Sink-webtuiste laai.

Inskrywings is van reg oor die land ontvang. Elke kategoriewenner is met ’n prys beloon, asook die junior en senior span wat met die hoogste punte op die telbord geëindig het.

Junior kategorie:

Wenner: Hoërskool Linden: Simon Killian, Mia Marais en Natasha Dixon

Naaswenner: Helpmekaar Kollege: Andries de Kock, Zander Marais en Nelius van Graan

Senior kategorie:

Wenner: Afrikaans Hoër Meisieskool: Kristie Guldenfennig, Mine Herman en Megan Kruger

Naaswenner: Hoërskool D.F. Malan: Arnold Hattingh, Gabi dos Santos en Andries Harmse

AfriForum hoop dat die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie volgende jaar weer soos oudergewoonte sal plaasvind in sy vier verskillende streke reg oor die land.

Die datums vir 2021 se Dink of Sink-streeksuitdunne lyk soos volg:

Suidstreek – Gasheerskool: Hoërskool D.F. Malan – 7 Mei 2020

Verre noordstreek – Gasheerskool: Hoërskool Merensky – 10 Junie 2021

Sentraalstreek – Gasheerskool: C&N Sekondêre Meisieskool Oranje – 5 Augustus 2021

Noordstreek – Gasheerskool: Hoërskool Montana – 12 en 13 Augustus 2021

Die wenners van die onderskeie streeksuitdunne sal op 3 Oktober 2021 in ’n nasionale finaal teen mekaar te staan kom.

Volg gerus die verloop van die kompetisie op www.dinkofsink.co.za.

Dink of Sink 2020 Ranglys

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN