Deur Alet Rademeyer
AfriForum het vandag ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa gerig waarin ’n dringende vergadering met hom versoek word om plaasmoorde én die toekoms van Afrikaners as kultuurgemeenskap in Suid-Afrika te bespreek.
Die doel van die brief is om Ramaphosa in kennis te stel dat die heersende spanning oor plaasmoorde nie net kan toeneem nie, maar dat voorvalle soos dié in Senekal heel waarskynlik weer sal gebeur.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê AfriForum wil ’n konstruktiewe rol in die land speel, maar om dit te doen kan Afrikaners nie langer as tweedeklasburgers in hul geboorteland behandel word nie.
Volgens Kriel het die vervreemdingsvlakke in die land geweldige afmetings aangeneem. “Ons kan hoop verloor, onttrek, moedeloos raak of ons kan die bul by die horings pak soos ons voorgeslagte nog altyd gedoen het.
“Ons toekoms is in ons eie hande ongeag wat die president of die ANC doen. Ons bou reeds sterk aan onafhanklike gemeenskappe. Behalwe dat ons bou, het ons egter ook ’n beïnvloedingsrol en ons moet veg teen die polariserende rol van die regering.”
Kriel het na die wrede moord op Brendin Horner van Senekal verwys en gesê dit was vir baie mense die laaste strooi.
Hy meen daar moet dringend met Ramaphosa gepraat word oor vervreemding op talle vlakke. Hy het verwys na die regering wat nie ag slaan op mense se pleidooi oor plaasmoorde nie, die ANC se skaamtelose plan om standbeeld na ‘konsentrasiekampe’ te skuif, die uitfasering van Afrikaans by universiteite, anti-Afrikaanse optrede deur politici soos Panyaza Lesufi wat skole wil verengels en haatspraak teen Afrikaners op talle vlakke.
“Die voorval waar Bheki Cele (minister van polisie) verlede week hand om die blaas met Julius Malema (leier van die EFF) in die hof in Senekal gesit het waar Horner se vermeende moordenaars verskyn het, kort nadat Malema en sy ondersteuners geskreeu het dat boere vermoor moet word, is ’n aanduiding van waarmee ons te doen het.
“Die president kan nie langer terreur teen ons as gewone misdaad afmaak nie. Ons as kultuurgemeenskap word nou as tweedeklasburgers behandel.
“Ons versoek die gesprek om die toekoms van die Afrikanergemeenskap in hierdie land te bespreek en om praktiese stappe voor te stel om te verseker dat daar ook ’n toekoms vir ons gemeenskap is, ondanks die feit dat ons ’n minderheid is,” sê Kriel.