Deur Eugene Brink
Max du Preez’ se onlangse ommekeer in Vrye Weekblad oor die noodsaak van ’n parallelle staat is kennelik laat, maar ten minste nie halfhartig nie.
Die stuk is besiel met ’n vurige pleidooi dat mense betrokke moet raak en die gate help toestop wat die regering nie kan toestop nie. Hy beskryf in groot detail wat dié mislukkings is. Maar net voor dit komplimenteer hy sommige organisasies vir hul welwillendheid en visie, en pleit dat die hele Suid-Afrika ’n AfriForum en Solidariteit moet hê. Dit is iets wat ek in die verlede herhaaldelik bepleit het en sal voortgaan om tot my dood te bepleit. Vername Westerse intellektuele soos Niall Ferguson het soortgelyke en rederyke argumente geopper oor die belangrikheid van ’n burgerlike samelewing (lees gerus The Great Degeneration: How Institutions Decay and Economies Die). So ook die grootse Alexis de Tocqueville. AfriForum het reeds die pad gelyk gemaak sodat ander kan volg, maar dit kan helaas nie die hele Suid-Afrika in elke opsig red nie. Dit is in dié opsig dat ek heelhartig met Du Preez saamstem: Ons het meer AfriForums nodig wat volgens unieke omstandighede aangepas is.
Die parallelle staat – as dit die voorkeurterm is – bestaan reeds sedert 1994 en groei steeds. Landgoedere met gemeenskaplike sekuriteits- en ander gemeenskaplike dienste wat voorsien word, privaat sekuriteitsmaatskappye en hospitale, buurtwagte en privaat kragopwekking is ’n paar van die kenmerke van dié parallelle staat. Dit is betreurenswaardig dat mense wat van beter moes weet as om dié idee ten spyte van oorweldigende bewyse te versmaai, en wat sekerlik voordeel getrek het uit die verskeie vorme van selfbestuur, eers nóú openlik erken dat die noodsaaklik is. Of jy dit wil ignoreer of ontken, dit is ’n werklikheid wat die lewe in Suid-Afrika – en elders in Afrika en die wêreld – moontlik en haalbaar maak.
’n Mens kan nie die ANC aanhoudend vir sy korrupsie, treurige dienslewering en onbekwaamheid kasty nie, en terselfdertyd burgers daarvoor blameer dat hulle hulself van die staat se mislukkings bevry of hulself daarteen beskerm nie. Boonop behoort jy ook ’n nuwe en lewensvatbare oplossing buiten bloot deelname aan verkiesings voor te stel; ’n langtermynoplossing en nie een wat bloot oplossings oor die kort of medium termyn – of indien ooit – bied nie. Eerder as om dié inisiatiewe as “elitisties” of “wit bevoordeling” te brandmerk, moet daar wyses gevind word waarop dit gerepliseer en daarop uitgebrei kan word.
Vir té lank al is AfriForum se visie van en doelbewuste pogings tot selfstandigheid deur linksgeneigde joernaliste en rubriekskrywers afgekeur, hul kritiek gegrond op die samestelling van die organisasie se skynbaar “uitsluitlike” karakter, pleks van op die haalbaarheid en algemene bruikbaarheid van die strategie en die eindresultate daarvan. Dit is onteenseglik waar: Sommige van die werk bevoordeel ons lede (waarvan die oorgrote meerderheid Afrikaners is wat inderdaad dié pogings finansier), maar ’n groot gedeelte daarvan bevoordeel almal in ’n spesifieke geografiese plek of selfs die land. Voorbeelde van laasgenoemde sluit in die herstel van slaggate in die hoofstrate van dorpe waar almal ry, of die toepassing van druk op amptenare om watertoevoer te herstel. Niks hiervan behoort omstrede te wees of doelbewus geïgnoreer te word nie, en tog is dit die enigste wyse waarop dit in sommige geledere uitgebeeld of hanteer word.
Dit bring my by my volgende punt. Die uitdaging wat met die parallelle staat gepaardgaan – en hiervan het ek eerstehandse ervaring – is dat dit geld en inspanning kos. Die staat voer hierdie take uit deur middel van belasting en ’n burokrasie. Die doeners in die burgerlike samelewing – of enige mengsel van rolspelers wat burgerlik ingestel is – moet dit in gedagte hou en die menslike, finansiële en organisatoriese hulpbronne vind om hul doelwitte te bereik.
Die maklike deel is om mense te vertel om iets te doen, soos wat Max so moedig gedoen het. Die moeilike deel is om hulle betrokke te kry om die werk te doen. AfriForum se takke steun op ’n netwerk van vrywilligers (wat ook bydraebetalende lede is) om dwarsoor die land ’n reeks take te behartig. Hulle betaal belasting en gebruik dan hul vrye tyd om gras te sny, hul woonbuurte te patrolleer om misdaad te voorkom, en slaggate te herstel. Dit is ’n dubbele burgerlike verantwoordelikheid wat geprys en – selfs belangriker – gerepliseer behoort te word. Kortliks: Ons moet regeringsdienste bied sonder verpligte belasting. Neem dít asseblief in ag voordat jy enige poging kritiseer, hoe gering en onvolmaak dit ook al mag lyk.
En terwyl die kommentariaat in die een rubriek ná die ander die gebrek aan versoening en die nielewering van dienste aan die armes betreur, is wit boere in tweekleurige hemde en swart werkers uit die werkersklas in blou oorpakke besig om kragte in die Vrystaat saam te snoer om swak dienslewering weens korrupte amptenare te beveg. Dit is die “goeie nuus”-stories wat nie die voor- of tuisblad van nuuspublikasies haal nie omdat dit sensasie kortkom.
Bowendien, hoe belangrik die privaat sektor ook al is, maak dit slegs ’n deel van dié pogings uit en dit doen dit beslis nie verniet nie. Dit omvat nie die parallelle staat in sy geheel nie.
Hoe dit ook al sy, ek is meer as tevrede dat Du Preez by ons aansluit deur die idee van selfbestuur te ondersteun. Om eerlik te wees, as jy ’n behoorlike lewe vir jouself en jou nakomelinge in dié land wil hê, is daar geen ander wyse nie. Noudat die maklike deel verby is, wonder ek of Max by ons in die strate sal aansluit, besig om te doen wat gedoen moet word. Ek hoop van harte so. Ons het elkeen se hulp nodig.
Dr Brink is die strategiese adviseur vir gemeenskapsake by AfriForum.