Deur Ohann Fourie
Op Saterdag 31 Maart 2018 spring ses “onervare rebelle” afkomstig uit die ou Noord-Transvaal in ’n bussie. Op pad laai ons nog vyf “onervare rebelle” in die ou Wes-Transvaal op voordat ons regmaak om op die spoor van ons voorvaderhelde in die ou Kalahari te gaan stap.
Met ons aankoms net buite Upington in die Noord-Kaap laai ons al die bagasie oor op ʼn sleepwa voordat die groter deel van die toergroep by ons aansluit. Daar is omtrent iemand uit elke streek en distrik van die land. Die groot verskille in agtergrond reflekteer ook in die uiteenlopende persoonlikhede. Ons is ’n lekker groep met terggees en energie wat jou sommer na die toer laat uitsien.
Die groep bestaan uit drie personeellede van AfriForum Jeug, die toergids, dr. Louis Bothma, ’n drywer, ’n verpleegster, twee kosmakers en 20 jong, opgewonde stappers.
Daar is ou en nuwe gesigte en die atmosfeer is ontspanne en gemaklik. Om te sê die toer is deel van my werk en posbeskrywing is sekerlik een van die grootste voorregte het ek gou besef.
Dit is ’n voorreg om met jongmense te werk en te sien hoe toere soos hierdie hul lewensuitkyk totaal verander. Die trots wat hulle ervaar as hulle vir die eerste keer hoor dat hulle as jong Afrikaners ook helde uit die geskiedenis kan en mag hê, gee jou ’n warm gevoel om die hart. Só ook wanneer een van die jongmanne met dieselfde van as een van die generaals uit die rebellie hardop wonder of hulle dalk verwant aan mekaar is.
Dis ’n groot oomblik vir die jong stappers as die besef insink dat húl mense in die rebellie moes veg sodat hulle vandag as jong Afrikaners hul geskiedenis kan onthou en herleef.
Dis ’n onbeskryflike gevoel om op die spore van die 1914-1915 rebellie terug te loop.
Die roete is gebaseer op ’n gedeelte van genl. Jan Kemp en sy rebellekommando se woestyntog deur die Kalahari om by genl. Manie Maritz en sy rebellekommando in Duits-Suidwes-Afrika aan te sluit. Ons het op 1 April buite Upington weggespring en met die sandsloot langs na die plaas Christiana (24 km) geloop waar kommandant Albert Stadler op 25 Januarie 1915 aan sy wonde beswyk het. Daarna het ons Kemp en sy Wes-Transvalers se spore oor Gelukspruit en Steenkampsput na Bloubos (15 km) gevolg. Op die voorlaaste dag het ons deur driedorings, klipvlaktes en duine via Grondneus na Koegoekoep (15 km) gestap. Op 5 April is die laaste 20 km tot by Zwartmodder afgelê.
Tydens die staptoer het die voete en bene maar seer geraak. Van ons het blase gekry en gedeeltes van die roete in plakkies voltooi. Maar dis tydens só ’n staptog dat die uiteenlopendheid van mense ook na vore kom. Van die stappers het agter begin raak en van die voorstes was bereid om te wag of die agterstes te gaan haal. Dis tydens so ’n staptog dat mens weer “omgee-vir-mekaar” sien wat nie meer alledaags is nie.
Aan die einde van elke dag het ons om ʼn vuur gesit waar ons die dag se ervarings gedeel het. Dis hier waar van die stappers vertel het dat hulle weer ’n volksideaal gekry het en dat die positiwiteit van die groep hulle gedra het toe hulle wou moed opgee. Die staptoer het ’n groep “onervare rebelle” in ’n ervare span verander waar jongmense anders oor hul toekoms, verlede en geskiedenis begin dink het. ’n Gevoel van trots is aangewakker, maar ook een van verantwoordelikheid. Elkeen wat deel van die Rebelspoorvasbyt was, besef nou dat wat met die Afrikaner se toekoms gaan gebeur, ook van hulle afhang.
Elkeen het onderneem om vir ander jongmense van die toer te vertel en die boodskap oor te dra dat hul voorvaders 104 jaar gelede vir vryheid opgestaan en geveg het en dat dit nie vandag net weggegee kan word nie.
N.P. van Wyk Louw het geskryf:
Opstand in ʼn volk is net so noodsaaklik as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ʼn rebellie misluk nie. Wat gevaarlik is, is dat ʼn hele geslag sonder protes sal verbygaan.
Hierdie aanhaling bevestig dat dit nodig is vir ʼn volk om op te staan vir vryheid en vir dit waarin hulle glo.
Die Rebelspoorvasbyt van 2018 is merkwaardig in die sin dat dit die heel eerste keer in die geskiedenis is dat ʼn staptog op die rebelspore van Kemp en Maritz te voet afgelê is. Vanjaar is ook vir die eerste keer ’n Rebelspoorvlag ontwerp en gehys.
Dis ’n onbeskryflike ervaring en jy moet self daar wees om te beleef hoe dit jou as mens heeltemal verander. Jy kyk skielik anders na die alledaagse soos die gejaag na geld en sukses. Jou geskiedenis en waar jy vandaan kom, word weer belangrik. En terug in Pretoria wens jy jy kan weer in die Ou Kalahari tussen die sandduine en kameeldoringbome wees, op die rebelle se spoor terugloop en die stilte en saligheid ervaar.