Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch
Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan ’n verslag uitreik waarin die toename van rassisme en haat teenoor Suid-Afrikaanse minderhede, en witmense en Afrikaners in die besonder, toegelig word.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat die rassedebat in Suid-Afrika so skeefgetrek is dat nie meer op rasionele argumente berus nie.
“Die doel van ’n konferensie wat ons beoog en die bekendmaking van ’n verslag is om uit te wys dat die rassedebat in die land irrasioneel geword het en dat rassisme nou ’n gonswoord is. Almal beskuldig almal daarvan en daarom het die woord het nie meer inhoud nie.”
Die verslag sal onder meer verwys na ‘n reeks voorvalle die afgelope twee jaar waarin growwe dubbele standaarde in die rassedebat toegepas is, veral met betrekking tot jongmense wat in die nuwe Suid-Afrika grootgeword het.
“Daar is baie dubbele standaarde in die rassedebatte en daar is groter verdraagsaamheid teenoor swart mense as teenoor wit mense. Gevolglik beskou baie wit mense nie meer die debat as ernstig nie, veral as daar gesê word dat swart mense nie rassisties kan wees nie.”
Roets sê dat hy hoop om met die verslag balans na die debat te bring, daarom sal dit ook internasionaal versprei word. Hy het beklemtoon dat die verslag nie eensydig moet wees nie en daarom word alle rasse- en minderheidsgroepe uitgenooi om deel te neem. “Enigiemand is welkom om klagtes by ons in te dien. Ons wil nie hê dit moet eensydig wees nie. Die doel is om geloofwaardige konteks te gee aan die rassedebat in die land.
Hy het voorts gesê dat die navorsingsinstellings waarheen die verslag gestuur gaan word, organisasies is wat politieke navorsing doen en verslae opstel wat deur regerings en ander politieke organisasies gebruik kan word. “Hierdie internasionale instellings het die mag om regerings te beïnvloed en om seker te maak dat die inligting by die regte mense uitkom.”
Roets het verduidelik dat verskeie voorbeelde en aspekte van rassisme aandag sal kry. “Ons moet wit rassisme ook veroordeel en aanspreek. Dit is egter nie regverdig om rassisme te veroordeel as dit net van ’n wit persoon kom nie. Dit moet van alle kante beveg word.”
Hy het verwys na onlangse debatte oor die moontlike instelling van ’n wet wat tronkstraf sal behels indien ’n person aangekla word van rassisme. “Ons is bekommerd dat so ’n wet nie konsekwent op alle landsburgers toegepas sal word nie.”
Voorbeelde van rassisme wat aandag sal kry, sluit ook rassistiese uitsprake van regeringslui in. “Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het byvoorbeeld gesê dat hulle (die regering) nie sal toelaat dat ‘rassiste’ vir hulle voorskryf oor rassisme nie,” het Roets gesê.
Volgens Roets is daar ’n veralgemening dat rassisme slegs aan wit mense gekoppel kan word.
’n Onlangse en prominente voorbeeld volgens hom is die saak van die studente van die Universiteit van Stellenbosch wat hulself pers geverf het om soos ruimtewesens te lyk vir ’n koshuispartytjie. “Die studente is geskors omdat die verf “te donker” was en dit op sekere foto’s soos swart verf gelyk het, wat kwansuis rassisties is.”
Ander voorbeelde van rassisme wat toegelig sal word, sluit in die sing van haatliedere om mense op te sweep en tot geweld aan te hits, asook haatspraak op sosiale media.
Die verslag sal gedurende die eertse helfte van vanjaar tydens ’n konferensie vrygestel word. Dit sal op 21 Maart op Internasionale dag vir die Bestryding van Rassisme aan internasionale rolspelers oorhandig word.