Deur dr. Eugene Brink
In ’n onlangse brief aan die nasie begin president Cyril Ramaphosa met ’n bondige uiteensetting van die kommerwekkende toestand van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Daarna verloor hy homself in ’n ooroptimistiese illusie wat totaal verwyder is van die werklikheid, hier en daar deursprinkel met enkele korreltjies kommer.
Hy sluit vol vertroue af met die stelling dat ons oor al die middele beskik om ’n ekonomiese herstelproses aan die gang te sit. Ons almal moet net saamwerk om dit te laat gebeur.
Dit is opmerklik dat hy nie ’n enkele een van die yslike misstappe toegee wat die regering in die afgelope paar maande gemaak het – soos die instelling van ’n belaglik streng staat van inperking waarvoor daar geen bewys is dat dit daadwerklik doeltreffend was om die toenemende aantal Covid-gevalle en gepaardgaande sterftes terug te dring nie – of die ander misstappe wat begaan is sedert sy regeerperiode begin het in Februarie 2018. Die president fokus op dit waarin hy uitblink: hy beklemtoon die staat se rol in die proses van ekonomiese herstel, gaan saggies verby aan die oorweldigende sistemiese probleme in die land of ignoreer dit in die geheel, en fokus uitsluitlik op die toekoms (met gebruikmaking van die woorde “sal” en “moet” as sleutelterme). Blatante onwaarhede en verswyging van feite is volop in hierdie brief, maar die president het darem die ordentlikheid of realisme om nie suksesse te versin waar daar duidelik geen suksesse bestaan nie. Hy het hierdie tema net eenvoudigweg gesystap, en nie op ’n besonder vaardige wyse nie.
Die blote feit dat Ramaphosa wéns dat ekonomiese herstel sal plaasvind, beteken helaas nie dat dit inderdaad gaan gebeur nie. Trouens, in die huidige omstandighede is al die risikofaktore aanwesig wat juis ’n betekenisvolle mate van herstel gaan verhoed. Voor in die ry staan mnr. Ramaphosa self asook sy party. Daar is ’n wêreld van verskil tussen voornemens en werklike impak; tussen pogings en die totstandkoming van die gewenste resultate. “Een van die groot foute is om beleid en programme te beoordeel op grond van die doelstellings daarvan eerder as die resultate,” het Milton Friedman gesê.
Ramaphosa skryf dat hulle strategie vanaf die begin van die pandemie daarop gerig was om, binne die beperking van beskikbare middele, elke moontlike vorm van ondersteuning te bied om sakeondernemings te beskerm en werkgeleentheid te behou. Verwag u werklik dat ons dit moet glo, meneer die president?
Is dit die rede hoekom die regering hulpfondse (verhaal van alle belastingbetalers) weerhou het van sakeondernemings met wit eienaars? Is dit hoekom sy wetstoepassers liefdadigheidsorganisasie geboelie en lastig geval het? Is dit hoekom tenders vir persoonlike beskermingstoerusting die hoogte ingeskiet het en die toekenning van tenders uiters onreëlmatig verloop het? Is dit hoekom baie bedrywe in die restaurant-, vervaardigings-, mynwese- en toerismesektor nie oorleef het nie? Is dit hoekom tabakprodukte nog steeds verbode is? Is dit hoekom mnr. Ramaphosa verkneg is deur die vakbonde? Is dit hoekom daar ’n nasionale minimum loon ingestel is?
Jammer om dit te sê, maar sakeondernemings (veral die klein ondernemings waaroor hy so vurig praat in sy brief) betaal nou die prys vir die regering se hiet-en-gebied-optrede waarvan hulle weier om rekenskap gee. Hy wei oewerloos uit oor die totstandkoming van nuwe sakeondernemings terwyl hy en sy regering alles gedoen het om bestaande sakeondernemings en bestaansmiddele te vernietig! En dan het hy die vermetelheid om te sê dat ons moet saamwerk en nie moedeloos of oorweldig moet voel nie. Maklik om te sê vir iemand wie se presidensiële salaris gewaarborg is – net soos dié van die uitdyende staatsdiens se amptenare waar die woord “diens” ’n ontoepaslike beskrywing is.
Tony Leon het onlangs in die Sunday Times gestel dat regeringsdenke en -optrede duidelik deur ’n draer van infeksie geaffekteer is: “Fomite has clearly infected government thinking and actions. It seems to be enthusiastically and (here at least) able to transfer the diseases of unemployment and business failure to as many sectors as possible.”
Saam met die klein sakeondernemings het die president sy oog op die landbousektor as ’n moontlike groeipunt. Alhoewel hierdie sektor bewonderenswaardig goed gepresteer het onder baie moeilike omstandighede, is dit toegegooi onder ’n verstikkende kombers van toksiese beleidsriglyne en potensieel skadelike beleidsrigtings, waarvan onteiening sonder vergoeding die vaandeldraer is. Boere het oorleef ondanks die regering (en die weersomstandighede) se beste pogings om hulle te ondermyn.
Ramaphosa kla ook oor ondoeltreffende uitvoering as ’n uitdaging om die ekonomie weer in rat te kry. Die beste vaardighede wat beskikbaar is in alle sektore van die samelewing moet glo gebruik word om ’n gemeenskaplike program aan te pak. Dit klink wonderlik, maar weer eens is die werklikheid meer veelkantig. Kaderontplooiing het daarvoor gesorg dat die uitgevrete staatsdiens die meeste van sy kundigheid verloor het; dit is ’n parasitiese monster wat geen plek laat vir privaatbelegging nie. Die privaat sektor en persone met toepaslike vaardighede is baie versigtig om betrokke te raak by enige gemeenskaplike projekte, terwyl hulle terselfdertyd nie toegelaat word om ’n bydrae te maak nie, laat staan nog om die leiding te neem.
Soos The Economist onlangs geskryf het in ’n vlymende bydrae oor die toenemende armoede in Suid-Afrika as gevolg van die wanbestuur van die Covid-19-krisis: “There is seemingly no problem for which the ANC does not see the state as the solution.” Die “nuwe ekonomie” wat Ramaphosa so trots voorhou is nie ’n stelsel in die Singapore-styl wat gedryf word deur tegnologie en uitmuntende onderwys nie, maar eerder nog ’n uitgediende Marxistiese sjibbolet wat bestaan uit ’n farmaseutiese maatskappy wat aan die staat behoort, en ’n bank.
Suid-Afrika se inwoners moet besef dat indien hierdie land en sy samestellende dele wil floreer, die beste pad vorentoe bestaan uit (dikwels plaaslik) georganiseerde en self-geïnisieerde pogings wat ’n spesifieke kwessie of probleem aanspreek. Professor Koos Malan van die Universiteit van Pretoria skryf in sy jongste boek, There is no supreme constitution: A critique of statist-individualist constitutionalism, dat groeperings binne die burgerlike samelewing in ’n posisie verkeer om belangrike grondwetlike verantwoordelikhede te vervul en dat hulle ’n magsentrum daarstel wat die belange van hulle lede dien asook die belange van diegene wat baat vind by sulke aktiwiteite. Die belangrikste is egter dat hulle optrede as wigte en teenwigte dien ten opsigte van alle ander magsentrums – veral ten opsigte van die regering.
Die binnekringgevegte en hebsug van die ANC en die opsienbarende ineenstorting van die staat laat ons met geen ander keuse nie. Ons is aan ons lot oorgelaat in elke moontlike betekenis van die woord – alhoewel dit dalk retories ontken word, is dit in die praktyk meer as duidelik. Ramaphosa praat van die basisstelsels regkry. Hy verwys na betroubare energievoorsiening en doeltreffende vervoerstelsels. ’n Sameraapsel van lafhartige niksdoen, noodlottige ideologie, ’n algehele gebrek aan verantwoording en kriminele gedrag het hierdie ideaal onmoontlik gemaak; dit is dan ook geen verrassing nie dat die basisstelsels juis vernietig is in plaas daarvan om uitgebou te word. Selfs met ’n nogal aansienlike verkiesingsoorwinning en die staat se volle mag tot sy beskikking, het sy wense vir verbetering nog net agteruitgang opgelewer.
Dr. Brink is strategiese adviseur vir Gemeenskapsake by AfriForum