Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch
“Privatisering kan die politiek uit water haal.”
Só meen Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum.
Kleynhans het gereageer nadat Zandile Mathe, adjunk direkteur-generaal van die departement van water en sanitasie, verlede week in die parlement bekend gemaak het dat die departement “buite die boks moet begin dink oor die waterinfrastruktuur van die land”. Mathe het gesê die bestaande finansieringsmodel is onvoldoende en dat die private sektor betrek sal moet word om water te verskaf in Suid-Afrika.
Volgens die departement word R81 miljard benodig om die bestaande waterinfrastruktuur oor die volgende tien jaar te vervang. “Die staat kan nie bates bestuur of ‘n infrastruktuur onderhou nie en die munisipalitiete in ons land het nooit geld nie, daarom is privatisering ’n goeie oplossing,” meen Kleynhans.
“Die huidige model van bestuur is ’n ‘salarisskep-senario’, dus is die relevante rolspelers nie gedrewe nie.”
Kleynhans meen dat privatisering eerder ’n werkskeppingscenario is wat die ekonomie sal bevorder. “Die nasionalisering van die waterinfrastruktuur laat mense nie groei nie en niemand word verantwoordelik gehou of afgedank as hulle nie hul verantwoordelikhede nakom nie.”
Kleynhans het bygevoeg dat die departement steeds die raamwerk kan omskryf rakende pryse vir water en dat die kompetisie in die private sektor moontlik kan meebring dat waterpryse kan verlaag. Hy het ook gesê dat privatisering beter behandelde water vir boere kan beteken. “Huidige waterkanale is verswak weens besoedelde water wat grootliks van groot staatsdamme afkom. “Privatisering kan beteken dat korrupsie uitgeskakel word en dat gehalte verbeter word omdat die private sektor baie strenger is op die dienste wat hulle lewer.”
Dr. Anthony Turton, ’n waterspesialis en -kenner, sê dat privatisering die enigste uitweg is en dat die staat in die regte rigting beweeg as privatisering oorweeg word. “Die huidige staat het nie die regte beleide, infrastruktuur of finansiering om verder water te verskaf in Suid-Afrika nie.”
Turton het voorts gesê dat Suid-Afrika as staat in geheel besig is om te misluk weens kleiner mislukkings soos die verskaffing van skoon water en sanitasie. “Dit is uiters belangrik vir huidige beleide en sisteme om drasties te moet verbeter en landsburgers moet die minister ondersteun indien privatisering oorweeg word.”
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die wyse waarop die staat sy regulerende verantwoordelikhede nakom ten opsigte van die beskerming van die land se waterbronne is nie korrek of voldoende nie. Privatisering gaan egter nie noodwendig die probleem oplos nie.
Volgens van Zyl is mynbou, nywerhede en munisipaliteite die drie grootste sondebokke in terme van die besoedeling van water in Suid-Afrika. Hy meen die verantwoordelikheid moet op hulle geplaas word om die huidige waterinfrastruktuur te verbeter.
“Die bestuur van water kan ’n groter probleem word as die beskikbaarheid daarvan, daarom moet die bestuur van water in al sy fasette verbeter word.”
Volgens Van Zyl moet alle instansies wat water verskaf en bestuur verantwoordelik gehou word.
Kleynhans het afgesluit en gesê privatisering en die onafhanklike regulering van dienste word in lande soos Engeland en Zambië suksesvol bestuur, maar in ’n land soos Suid-Afrika wat reeds ’n welsynstaat is, kan dit ’n finansiële risiko wees.
Hy het voorts gesê vakbonde kan ’n groot struikelblok wees en die privatisering van die waterinfrastruktuur probeer verhoed. Vir privatisering om te realiseer, sal daar eers groot veranderings in die parlement gemaak moet word.