AfriForum het Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, se waarskuwing verwelkom dat onteiening sonder vergoeding katastrofies vir Suid-Afrika se ekonomie en die land se bevolking sal wees. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dié uitspraak ’n reusehupstoot vir dié burgerregteorganisasie se internasionale veldtog om buitelandse druk te mobiliseer teen die Suid-Afrikaanse regering se planne om hul ideologie van onteiening sonder vergoeding te implementeer.
Pompeo het sy uitspraak ten opsigte van Suid-Afrika se planne vir onteiening sonder vergoeding vanoggend in Addis Abeba in Ethiopië tydens die sitting van die Verenigde Nasies se Ekonomiese Kommissie vir Afrika gemaak.
“Aangesien die VSA een van Suid-Afrika se grootste handelsvennote is, moet die Suid-Afrikaanse regering Pompeo se waarskuwing met erns bejeën en besef dat ideologies gedrewe beleidsrigtings ernstige bedreigings vir die land se ekonomie inhou. Zimbabwe en Venezuela bewys met hul werkloosheidskoers van sowat 90% dat almal behalwe die politieke elite daaronder ly as eiendomsreg geskend word,” sê Kriel.
Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, en Monique Taute, bestuurder van veldtogte, het pas die Amerikaanse been van dié organisasie se #DieWêreldMoetWeet-veldtog van stapel gestuur. Dit behels onder meer die mobilisering van buitelandse druk teen onteiening sonder vergoeding. Roets het reeds gister ’n voorafopgeneemde onderhoud met Tucker Carlson op FoxNews gevoer en gaan talle ander media-instellings, meningsvormers, politici en dinkskrums in die VSA besoek.
“Beleggers verlaat vanself lande waar eiendomsreg nie gerespekteer word nie. AfriForum se poging om buitelandse druk te genereer, is juis om te verseker dat beleggers druk op die Suid-Afrikaanse regering plaas om beleggings te red,” sluit Kriel af.