Deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging
Die opspraak wat die F.W. de Klerk-stigting se uitsprake oor Apartheid gemaak het, wys dat die verlede nog glad nie verby is nie. Die regering van oudpresidente P.W. Botha en F.W. de Klerk word deesdae alleen verantwoordelik gehou vir die politieke doodloopstraat van die tagtigerjare. Daarteenoor word die ANC se rol in die destydse vertraging van ’n grondwetlike skikking totaal onderspeel. Die ANC se uitgesproke strategie was destyds om nie aan politieke onderhandelinge deel te neem voordat die regering só verswak was dat hulle die bewind met geweld kon oorvat nie. Hiervolgens het die ANC onderhandelinge net gesien as ’n gesprek oor die oorhandiging van mag aan ’n rewolusionêre bewind. Die party het destyds nog grootskaalse steun van die Sowjetunie geniet en is eers tot onderhandelinge gedwing toe kommunisme in duie gestort het.
Die beste bewys van die ANC se aandeel in die politieke stagnasie was die ontmoeting van dr. Van Zyl Slabbert met die ANC in 1985. Daar het die ANC bevestig dat die gewapende stryd steeds hul amptelike beleid was. Onderhandeling is gesien as ’n proses waartydens die (verslane) regering die mag aan die seëvierende “demokratiese magte” sou moes oorhandig. Die ANC het ook nie destyds geveg vir ’n grondwetlike demokrasie, menseregte en ’n vrye ekonomie nie. Die doel was om met ’n rewolusionêre oorname ’n “Oos-Duitsland in Afrika” te vestig. ’n Mens kan maar net kyk wat van menseregte, burgerlike vryhede, en ’n moderne ekonomie in al die ander “demokratiese volksrepublieke” geword het waar die ANC se mede-bevryders hulle sin gekry het. Die laaste uitgawe van die ANC-blad Sechaba in Desember 1990, gedruk deur die Erich Welnert-pers van die Oos-Duitse geheime polisie (die Stasi), het ’n foto van hulle onversetlike Kommunistiese president, Erich Honecker op sy voorblad gehad. Die redaksionele kommentaar oor die goeie ANC-Oos-Duitse verhoudings, betreur die verlies wat die bevrydingsbeweging ly met die verdwyning van die Kommunistiese regime in Oos-Duitsland.
Botha se vierbeenstrategie
Die Botha-regering het geen sin daarin gesien om in sulke omstandighede te onderhandel nie. Daarom het hulle ’n vierbeenstrategie gevolg op die dooiepunt te verbreek. Die eerste been was die stelselmatige aftakeling en hervorming van die Apartheidsbestel. Die tweede stap was die begin van ’n proses van onderhandeling om gematigde swart mense in die regering te begin betrek. Die derde stap was om met grootskaalse swart ontwikkelingsprojekte en ekonomiese opheffing swartmense se lewens te verbeter. Die vierde been was om met die afkondiging van ’n noodtoestand die rewolusionêre toestand wat in dele van die land geheers het, te onderdruk. Die doel hiervan was om ’n klimaat te probeer skep vir die hervormings om te werk en vir onderhandelings om te begin. Hierdie strategie van die NP is bemoeilik deur die verskerping van die ANC se “People’s War”, wat op die uitskakeling van hul swart opponente, ’n gewelddadige oorname en die sabotering van vreedsame hervorming gerig was. Die Botha-regering se strategie om demokratiese swart plaaslike regering in te stel, het misluk deur ANC-gesinde ontwrigting en aanvalle op raadslede. Jarelange belastingboikotte het ook die beskikbare fondse vir die ontwikkelings van hierdie gebiede gekortwiek, om nie van die skoolboikotte se verwoesting van swart onderwys te praat nie. Die IVP-leier, mnr. Mangosuthu Buthelezi, het die ANC vergeefs gewaarsku dat hulle strategie om die land onregeerbaar te maak, gaan veroorsaak dat die land ná hulle oorname steeds onregeerbaar gaan wees.
Vanuit die Botha-regering se gesigspunt, was daar ’n paar dinge wat onderhandelinge ’n algehele wensdenkery gemaak het: die ANC se weiering om te onderhandel voordat die magsbalans in hul guns was; hulle geweld en terreur; kommunistiese beleid; alliansie met die Kommunistiese Party en noue verbintenis met die Sowjetunie. In die tagtigerjare was sowat driekwart van die ANC se nasionale uitvoerende komitee lede van die SAKP.
Geweld
Teen die middel van 1990 het die geweld in die land onheilspellende afmetings aangeneem. Dit het gespruit uit die ANC se veldtog om mededingende swart groepe uit te skakel om só sy bedingingsposisie by ’n onderhandelingsproses te versterk. Die ANC se aandeel in die politieke geweld word vandag totaal onderspeel. In April 1992 het regter Goldstone ’n verslag uitgereik waarin hy tot die gevolgtrekking kom dat die “primêre oorsaak” van die geweld die “politieke stryd tussen ondersteuners van die ANC en die IVP” was. Vanaf September 1984 tot April 1992 is die dood van 455 mense deur die polisie veroorsaak, teenoor die dood van 8 825 mense wat deur die opstandelinge veroorsaak is. 801 mense is lewendig deur rewolusionêres aan die brand gesteek en verbrand.
Daar word deesdae aanvaar dat die noodtoestand en onderdrukkende maatreëls van die tagtigerjare bedoel was om swart mense te onderdruk en ortodokse apartheid in stand te hou. Maar die werklike doel was om wet en orde te handhaaf om vreedsame onderhandelinge moontlik te maak. So teenstellend soos dit mag klink, was die doel van die noodtoestand nie om apartheid af te dwing nie, maar om die omstandighede te skep waarin apartheid afgeskaf kon word.
ANC se aandeel in probleme
Dit kan nie betwis word dat die NP-regering belangrike foute begaan het nie, maar die ANC se aandeel in die doodloopstraat kan nie oorgesien word nie. P.W. Botha was beslis nie die enigste “krokodil” nie! Die vraag kan gevra word of die land nie ’n groot deel van die konflik van die tagtigerjare gespaar kon wees, as die ANC self ’n paar hervormings aan hulle beleid en strategie aangebring het nie. Hier kan gedink word aan die verbreking van hulle bande met die Kommunisme en die Sowjetunie, die afswering van geweld, die aanpassing van hulle beleid om vir die outonomie van kultuurgroepe voorsiening te maak, en as hulle in goeie trou die Botha-regering se aanbod om te onderhandel, aanvaar het. Die ANC het egter ’n ander pad gekies en die strategie om die land onregeerbaar te maak dra nou nog wrange vrugte, soos mnr. Buthelezi gewaarsku het. Die ANC-in-regering sit inderdaad met baie van die probleme wat die ANC-in-struggle help skep het. Kyk ’n mens na die huidige radikalisering van die ANC, kan ’n mens nie anders as om te vra of mnr. P.W. Botha dan heeltemal verkeerd was om die ANC te wantrou.
Nee, ek verlang nie terug na die verlede onder P.W. of F.W. se NP-regering nie, maar ek sien ook nie uit na die toekoms onder die ANC nie!