Die kwessie van plaasmoorde en die wrede brutaliteit waarmee dit gepaard gaan, moet op die agenda gehou word en nasionaal en internasionaal in die kollig geplaas word.
AfriForum, Solidariteit, TLU SA, die DA, die VF Plus en Cope het vandag op ’n mediakonferensie verduidelik waarom dit noodsaaklik is dat deurlopend standpunt teen plaasmoorde asook al die ander moorde in die land ingeneem moet word. Die burgerregte-organisasie, die vakbond, die landbou-unie en die politieke partye sal almal aan Saterdag se massa-optog van die Pretoria Kunsmuseum na die Uniegebou deelneem waar ’n memorandum aan die regering oorhandig sal word.
Die partye is dit eens dat die regering gedwing moet word om sy grondwetlike plig na te kom om landsburgers en hul eiendom te beskerm. “Niemand in Suid-Afrika mag vermoor of gemartel word nie. As ons nie aanhou om teen plaasmoorde en –aanvalle op te staan nie, dan normaliseer ons dit en dit mag nooit gebeur nie,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê plaasmoorde is ’n nasionale krisis en dit moet sodanig hanteer word. Sedert die begin van die jaar is 80 boere vermoor. In die jongste voorval is Christo Redelinghuys gister op sy plaas buite Hoedspruit voor sy dogter doodgeskiet sonder dat enigiets gesteel is.
Dianne Kohler-Barnard, die DA se skaduminister van polisie, het gesê die moord op Redelinghuys lyk soos ’n koelbloedige sluipmoord.
Sy het op die weerloosheid van mense in landelike gebiede gewys en gesê hulle is baie meer kwesbaar omdat dit dikwels ure of selfs dae vir die polisie neem om by hulle uit te kom. Polisiekantore is die gebiede is ook onderbeman en het nie voldoende hulpbronne nie. “Die frustreer mens geweldig om te hoor hoe ministers oorsee jolliepatrollie hou en geld mors wat vir hulpbronne aangewend kom word. Dit is ook skreiend dat die polisie helikopters van boere moet leen om aanvallers te probeer vastrek, terwyl die departement ’n begroting van R87 miljard het.”
Kohler-Barnard het gesê nuwe navorsing moet gedoen word oor wat die redes agter plaasmoorde en aanvalle is.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê sy party is sedert 1997 met bewusmaking oor plaasmoorde besig. Ook hy het verwys na navorsing en verslae oor die moorde wat verouderd is en meen nuwe inligting is nodig om die probleem behoorlik te kan pak.
Hy het gesê die krisis het na die afskaffing van die kommando’s ontstaan met ’n vakuum wat ontstaan het wat landelike veiligheid betref.
Volgens Groenewald doen die regering nie wat hy moet om landsburgers te beskerm nie. “Ons sal dit self moet doen.”
Oor die optog het hy gesê: “Die mense van Suid-Afrika en internasionaal moet kennis neem van wat aangaan.”
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê Suid-Afrika bloei op velerlei terreine. Nie net word 52 mense per dag vermoor die. Die ekonomie word ook vermoor met armoede wat toeneem en beleggers wat afgeskrik word.
Hy het verwys na die enorme impak van plaasmoorde en gesê vir elke boer wat vermoor word, is daar vir 2 000 mense nie kos nie. Voedselsekuriteit word bedreig en wanneer ’n plaas na ’n moord uit produksie gaan, neem dit tot 8 jaar voordat weer daarop geproduseer kan word.
“Ons moet die regering op ’n positiewe manier op terme plaas om sy verpligting teenoor Suid-Afrikaners na te kom. Daarom neem ons aan die massa-optog deel.”
Mosiuoa Lekota, leier van Cope, het gesê ons kan nie stilbly as boere en hul werkers vermoor word nie. “Dit dra nie die goedkeuring van gewone mense weg nie. Elke mens het die reg op lewe. Die regering doen nie wat hy moet nie.”
Hy het gesê Suid-Afrikaners moet verenig in die stryd teen misdaad en moorde. “Ons gaan Saterdag saam loop en vir die regering sê ons eis dat al die mense beskerm word.”
Hermann het gesê die optog is primêr om te dink aan hulle wat vermoor en aangeval is: wit of swart; boere of werkers; vroue en kinders. “Ons stap vir almal.”
Hy het gesê daar gaan nie Saterdag vinger gewys, vuiste gebal, uitgedaag of demonstratief vlae geswaai word. “Ons gaan treur, kniel, saamstaan, opkyk en van die regering eis om te doen wat hulle moet doen.”
In die memorandum wat aan die regering oorhandig sal word, eis die partye die volgende:
1. ’n Waarborg dat statistiek oor plaasaanvalle en plaasmoorde elke jaar bekendgestel word, saam met die Suid-Afrikaanse misdaadstatistiek;
2. Terugvoer oor die Landelike Veiligheidstrategie, om ’n besondere klem in te sluit op die stappe wat geneem kan word om plaasaanvalle te voorkom en te verseker dat hierdie oortreders voor die gereg gebring word;
3. ’n Uitvoering van die belofte dat ’n alternatief tot die Kommandostelsel ingestel sal word, op ’n wyse wat boere bemagtig om meer doeltreffend na hul eie veiligheid om te sien, met die finansiële rugstuk en steun van die Suid-Afrikaanse regering;
4. Die behoorlike bemagtiging van die SAPD deur die verwydering van korrupte lede, met die doeltreffende opleiding en die verskaffing van geskikte toerusting;
5. Die insluiting van plaasaanvalle as ’n kernprioriteit van die Valke;
6. Die stigting van gespesialiseerde landelike veiligheidseenhede; en
7. Streng maatreëls om politieke leiers wat plaasaanvalle – of enige vorm van geweld teenoor boere – romantiseer, voor die gereg te bring.