Header Artwork

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, is vir die soveelste keer in die spervuur nadat hy vandeesweek verskeie ondeurdagte voorstelle vir openbare skole in die provinsie gemaak het.

Lesufi wil hê skole moet voortaan volgens hul prestasie in vier kategorieë, naamlik uitstekend, goed, gemiddeld en swak gelys word.

Hy wil die skole op ’n ranglys plaas sodat ouers “op ’n webwerf kan sien of ’n skool goed of sleg is”.

Voorts het hy weer sy mes in vir skole met sogenaamde Apartheidsname en moet veral dié met “Verwoerd” in maar weet dat hy vir hulle kom, het hy gesê.

Hy het ook nog nie afgesien van sy vergesogte plan om funksionele en disfunksionele skole te laat saamsmelt nie.

Lesufi het sy omstrede voorstelle op ’n mediakonferensie aangekondig waar hy volgens onderwysontleders weet “hy mense opnuut die harnas sal injaag omdat nie een van sy voorstelle deeglik nagevors of aan ’n oorlegplegingsproses onderworpe was nie”.

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, het gesê in die lig van Lesufi se jongste voorstelle gaan die burgerregte-organisasie sy #lesufimoetval-veldtog voortsit.

Sy het gesê dit is kommerwekkend dat die onderwysdepartement nié weet watter skole nie op standaard is nie en dat Lesufi meen dié probleem kan opgelos word deur bloot ’n lys op te stel.

Oor sy bedekte dreigemente dat skole gedwing sal word om hul name te verander wat aan Afrikanersleiers herinner, meen Bloem ’n mens kan nie anders as om te dink dat hy voortdurend aan nuwe maniere probeer dink om die onderwysprobleme in die provinsie te verbloem nie.

“Oorvol klaskamers is reeds ’n gevolg van die groot aantal disfunksionele skole waaruit ouers hul kinders haal. En boonop word registrasiedatums vervroeg omdat die departement nie genoeg skole vir al die leerlinge in die provinsie bou nie.”

“Die #lesufimoetval en Red Arikaanse skole-veldtogte moet voortgesit word om skole teen mense in magsposisies, soos Lesufi, te beskerm.”

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het gesê Lesufi het sy deuntjie oor skoolname oor die afgelope jaar ook verander. “Eers hy kapsie gemaak teen alle skole se name wat aanstoot gee, maar nou teiken hy sommer alle skole waarvan die name aan apartheid herinner. Dit stem ooreen met die eise en optrede van sekere groepe op universiteitskampusse.”

Deacon het egter daarop gewys dat dit nie vir Lesufi so maklik gaan wees om skole se name te verander nie. “Hy kan hoogstens aanbeveel dat hulle so ’n proses moet oorweeg. ’n Skool is ’n regspersoon en ingevolge die Grondwet het juridiese persone bepaalde regte. Een daarvan is die reg op ’n naam. Die enigste persoon wat op ’n naamsverandering kan besluit, is die regspersoon self.”

Volgens Deacon is skole die eienaars van hul eie name, identiteite en kultuur. Die LUR het geen bevoegdheid om ’n skool te beveel om sy naam, wapen of tradisie te verander nie.

Ingevolge wetgewing moet ’n skool se beheerliggaam besluit op ’n naamsverandering en dit moet gepaard gaan met ’n behoorlike oorlegplegingsproses. So ’n proses sal behels dat die huidige skoolgemeenskap, ouers, leerlinge, onderwysers en ander belangegroepe soos oudleerlinge, donateurs en ondernemings wat aan die skool gekoppel is betrek moet word. Daarna moet op ’n redelike en rasionele basis besluit word of dit sinvol is om ’n naam te verander.

Deacon het gesê daar is voorbeelde van skole wat eie inisiatief geneem het om hul naam te verander. Een is byvoorbeeld H.F. Verwoerd Laerskool in Parys in die Vrystaat. Dié skool is deesdae Parys Primêre Skool en benewens die naam wat verander het, is aspekte soos die geboue, kleredrag en onderrigkultuur steeds dieselfde.

Deacon het gesê hoe meer uitsprake Lesufi maak om van sogenaamde apartheid in skole weg te kom, hoe nader beweeg hy terug na ’n totalitêre stelsel waar net opdragte gegee en dit uitgevoer moet word. “Sy ingryping by magte van beheerliggame en kunsmatige veranderinge minag die aard van openbare skole en bewys dat hy hom aan magsvergrype skuldig maak.”

Deacon het ook sy besluit om skole te lys gekritiseer en gesê dit is bloot ’n poging om die aandag af te lei van die departement en amptenare se onvermoë om swak skole reg te ruk. “Die laaste wat mense wil sien, is die name van swak skole. Hulle wil eerder skole sien wat werk.”

 

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN