Die sewejarige Imaan Solomons sterf verlede week in die spervuur van ’n bendeskietery in Ocean View in die Wes-Kaap. In Elsiesrivier is ’n hele gemeenskap in rou gedompel ná Tazné van Wyk (8) wreed vermoor is deur ’n misdadiger wat op parool uit was. En Sondag word die lykie van Reagan Gertse (8) van Tulbach gevind nadat hy ook deur ’n misdadiger wat op parool uit was verkrag en vermoor is.
In Gauteng verdwyn twee kinders, terwyl sestien sedert die begin van die jaar in die provinsie in verskillende omstandighede dood is.
Misdaad en geweld het endemies in Suid-Afrika geword. Ons hoor daagliks van die allerverskriklikste dinge wat mense aan mekaar doen en veral kinders ly ook. As hulle nie self slagoffers is nie, dra hulle oneindig swaar aan die trauma waaraan hulle blootgestel word. Baie van ons kinders sal nooit weer normaal kan funksioneer nie en baie sal nie as normale volwassenes eendag hul plek in die samelewing kan volstaan nie.
Dit is goed en wel dat pres. Cyril Ramaphosa die edele ding gedoen het om die gemeenskap van Elsiesrivier te besoek en te belowe dat die paroolvoorwaardes vir moordenaars van vroue en kinders hersien sal word. Dit gaan egter nie vir Tazné en duisende ander wat soos sy met haar lewe betaal het, terugbring nie.
Ons kan nie langer toelaat en toekyk dat die abnormale in ons samelewing aanvaarbaar geword het nie. Of aanvaar dat dit maar deel van ons alledaagse bestaan is waaraan ons nie veel kan doen nie.
Een en elk van ons kan iets doen. En dit begin in ons eie huise en by ons eie kinders. En dan in ons gemeenskappe, ons buurte en ons strate.
Weet ons waar ons kinders die heeltyd is? Weet ons of die omstandighede waarin hulle skoolgaan of smiddae huis toe kom veilig is? Praat ons genoeg met ons kinders oor veiligheid en veiligheidsmaatreëls wat hulle te alle tye moet nakom of is ons te bang ons maak hulle te bang om in hierdie land te leef?
Ons durf nie naïef wees of apaties staan rondom die veiligheid van ons kinders nie. En dit geld vir al die kinders van hierdie land. As volwassenes het ons ’n verpligting om alle kinders te alle tye te beskerm. Gegewe die sosio-maatskaplike omstandighede in die land, is daar ook derduisende kwesbare, honger en verwaarloosde kinders wat uit gebroke huise kom, in weeshuise, plekke van veiligheid of selfs op straat is. Hierdie kinders het net soveel ’n reg om veilig en geborge te voel.
Dit is tyd dat ons almal as individue en as ouers hande vat met ons gemeenskappe, kerke, welsyns- en ander organisasies om veiliger en beter omstandighede vir ons kinders te skep. Die siel van ’n samelewing word immers weerspieël deur die manier hoe hy sy kinders behandel. As ons nie vandag begin om ’n beter wêreld én toekoms vir ons kinders te skep nie, mag dit dalk te laat wees en mag ons nog meer verlore geslagte hê. Die geskiedenis sal ons beoordeel aan die verskil wat ons daagliks in die lewens van kinders gemaak het. Soos dit nou daar uitsien, sal ons nie aan ’n baie fel oordeel ontkom nie.