Onderwysers wat in hul moedertaal klas gee, is meer positief as diegene wat dit in hul tweede of selfs derde taal doen en hul gemoedstoestand is beter.
Maar baie onderwysers gaan erg gebuk onder onnodige administrasie, swak dissipline in skole en die klaskamer en ’n groot werklading.
Dít is van die bevindings in nuwe navorsing wat die Skoleondersteuningsentrum (SOS) vandag bekendgemaak het. Die SOS is die 19de onafhanklike organisasie binne die Solidariteit Beweging wat ook vandag amptelik bekendgestel is.
Johan Koekemoer, navorser by die SOS, sê navorsing het bevind dat moedertaalonderrig ’n positiewe invloed op onderwysers se gemoedstoestand het. “Onderwysers wat in hul moedertaal onderrig gee, staan met selfvertroue voor hul leerders én kan met genoegsame gesag dissipline in die klaskamer hanteer.”
Onderwysers wat Afrikaans is en Afrikaans klasgee se gemoedstoestand was uit ’n skaal van 10 altesame 7,1. Diegene wat in Engels klasgee se gemoedstoestand was 5,4 uit 10. En diegene wat Engels is en in Engels onderrig se gemoedstoestand was 6,1 uit 10.
Die navorsing het ook bevind dat onderwysers met ’n positiewe gemoedstoestand beplan om langer in die onderwys te bly.
Die SOS het meer as 600 Afrikaanse en Engelse onderwysers regoor die land by die navorsing betrek. Meer as 60% het aangedui dat hul werkslading swaar is en dat dit spanning en probleme in hul huisgesinne veroorsaak. Sowat 63% van onderwysers het swak dissipline as ’n bron van spanning uitgewys en aangevoer kinders het nie respek vir onderwysers nie en ignoreer opdragte en verantwoordelikhede.
Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van die SOS, meen dit is verblydend dat dit verbasend goed met Afrikaanse onderwysers in Afrikaanse skole gaan. Dit is egter nie ’n rede om agteroor te sit nie en die SOS is gereed om onderwysers met talle uitdagings by te staan en te help om professioneel te ontwikkel.
Brink sê sonder geïnspireerde onderwysers kan daar nie geïnspireerde studente wees nie.
Hy het voorts gesê Suid-Afrika het ’n probleem in terme van die werksmag se betrokkenheid by hul werke. In Suid-Afrika is net sowat 9% werkers betrokke en 45% aktief onbetrokke. Dis nie goed nie en skole, soos maatskappye, kan baat daarby om werkers meer betrokke te kry. Dit kan gedoen word deur die regte mense te kies, in hul gemoedstoestand te belê en hul professioneel te ontwikkel.
Paul Smit, ’n gekwalifiseerde lewensafrigter, meen die navorsing is waardevol omdat onderwysers ’n baie belangrike rol in die samelewing speel. “Onderwysers het ’n baie groot invloed op die lewens van kinders. Hulle het ’n staanplek om rolmodelle te wees vir die oordrag van norme en waardes.
“Een goeie sin van ’n onderwyser kan ’n goeie identiteit by ’n kind skep en onderwysers kan kinders se honger na kennis stimuleer.”
Smit sê selfaktualisering bepaal mense se gemoed. As dit nie daar is nie, is mense nie op ’n goeie plek nie.
Volgens hom moet skole onderwysers insluit en tuis laat voel. Hulle moet ook in terme van dissipline beter beskerm word. “’n Onderwyser wat roepingsgedrewe is en weet wat sy identiteit binne sy skool en die land is, is positief, energiek, tevrede, entoesiasties en daartoe in staat om leerlinge doeltreffend te onderrig.
“As die SOS kan help om die regte onderbou in die onderwys te bring, sal dit ’n geweldige impak hê.”
Die SOS se volledige verslag is beskikbaar by www.skole.co.za