Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het vandag aangekondig dat universiteite self moet bepaal hoeveel hulle klasgeld vir 2017 gaan verhoog.
Die minister het tydens sy aankondiging verduidelik dat die outoriteit om te besluit oor studiefooie nie by die regering nie lê, maar by universiteite se rade. Sy aanbeveling is dat universiteite dit nie met meer as 8% verhoog nie.
Nzimande sê voorts dat die regering sowat R2,5 miljard opsy gesit het om studente wie se ouers of voogde ʼn huishoudelike inkomste van minder as R600 000 per jaar verdien te subsidieer om die gaping tussen 2015 se klasgeld en die aangepaste bedrag vir 2017 by hul universiteit te dek.
Dié studente, asook alle studente wat vir die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) kwalifiseer, sal volgens Nzimande dus geen klasgeldverhoging vir 2017 ervaar nie. Dié sogenaamde “gapingsbefondsing” word slegs by instellings waar die verhogings 8% en minder is, gedoen.
“Die regering sal vir die verhoging betaal. Dit sal groot verligting bring aan verpleegsters, onderwysers, polisielede, maatskaplike werkers en ander ouers wat nie ’n reusesalaris verdien nie en kinders op universiteit het.”
Hy sê verder dat daar van studente van hoërmiddelklas gesinne, asook studente met volle beurse, streng verwag sal word om hul studiegelde vir 2017 te betaal.
“Dit is vir die regering baie onduidelik hoekom gesinne wat privaat skole kan bekostig, onder die huidige omstandighede verdere staatsubsidies moet kry vir hul kinders by universiteite,” sê hy.
Die minister het tydens sy aankondiging ook duidelik gemaak dat staatsgesubsidieerde hoër onderrig nie haalbaar is nie.
Hoewel die tesourie dit vroeër duidelik gemaak het dat daar nie nog meer geld vir hoër onderrig sal wees tensy hy inkomstebelasting verhoog nie, het die departement verder begroot om sowat R55 miljard opsy te sit vir die 2018-2019 akademiese jaar.
Nzimande sê ook dat daar van universiteit verwag sal word om jaarliks terugvoer te gee rakende transformasie. “Hoewel die klem nou op studiefooie is, moet ander aspekte van transformasie by tersiêre instellings nie ter vergete gaan nie.”
Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, verwelkom die burgerregte-organisasie die minister se besluit rakende die verhoging van studiefooie omdat dit beteken dat tersiêre instelling se outonomie gerespekteer word.
Bailey sê voorts dat hoewel dit positief is om te hoor dat meer geld aan NSFAS beskikbaar gestel word, die regering meer aandag moet toewy aan die bestuur van dié fondse.
“Die administratiewe probleme rakende NSFAS moet dringend aangespreek word. Dit is onaanvaarbaar dat studente in die stelsel verdwyn of nie aangespreek word rakende agterstallige terugbetalings nie.”
Die minister se aankondiging vind plaas nadat gemoedere die afgelope week hoog geloop by die Universiteit van Kaapstad (UK) en die Universiteit van Stellenbosch (US), waar studente klasse ontwrig het en betoog het oor dié moontlike toename in studiefooie. Studente van die universiteit van Kaapstad (UCT), asook die Universiteit van Witwaterswatersrand het ook vandag massavergaderings en betogings gehou na afloop van die minster se aankondiging.
Daar word verwag dat soortgelyk aksies sal oorspoel na ander kampusse.