AfriForum het vandag inligting bekom dat die beoogde steenkoolmyn wat deur Manzolwandle Investments op die voorstoep van die Nasionale Krugerwildtuin beplan is, stopgesit is.
Die Departement van Minerale en Energie het op 28 Oktober hul dokument van afkeuring aan Manzolwandle Investments gestuur en die maatskappy moes binne 14 kalenderdae alle belanghebbende en geaffekteerde partye in kennis stel. Tot hede het AfriForum nog geen kennisgewing van dié beslissing gekry nie.
AfriForum het verlede jaar strafregtelike klagte ingedien by die Komatipoort-polisiekantoor omdat Singo Consulting plagiaat, bedrog en vervalsing in hul omgewingsimpakstudie gepleeg het. Dit was genoodsaak nadat dit onder AfriForum se aandag gekom het dat die maatskappy ander omgewingskonsultante se omgewingsimpakstudies in hul verslag geplagieer het.
Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, sê dit is ’n groot sukses vir alle gemeenskappe waar onwettighede en ongerymdhede tydens mynaansoeke plaasvind. AfriForum sal die situasie daar moniteer en ook by soortgelyke sake betrokke raak, sou dit nodig wees.
Volgens De Klerk sal verdere ondersoek ingestel word rondom waar die twee maatskappye fisies geleë is. Die een maatskappy se geregistreerde adres dui op ’n oop stuk veld.
“Die vraag moet gevra word, ongeag van die ongerymdhede wat reeds bestaan, hoe só ’n mynmaatskappy aansoek doen vir ’n mynlisensie as ’n mens hulle nie eens kan besoek by ’n adres nie,” sê De Klerk.
Manzolwandle Investments wil die steenkoolmyn oor ’n gebied van 18 000 hektaar digby die Krugerwildtuin begin. Dit hou enorme nadelige en vernietigende gevolge vir die onmiddellike omgewing, die Krokodilrivier en ander waterbronne, natuurreservate, wildlewe, die padnetwerk in Mpumalanga en landbou-aktiwiteite in. De Klerk glo dat Mpumalanga as toeristebestemming ook ekonomies in duie kan stort as daar met onwettige mynbedrywighede voortgegaan word.
De Klerk het ook gewys op ’n onlangse uitspraak van die Appèlhof teen die departement van Omgewingsake en van Minerale Hulpbronne se goedkeuring dat Atha-Africa Ventures met ’n steenkoolmyn in die Mabola-gebied in Mpumalanga voortgaan. Die departemente het die aansoek stil-stil goedgekeur, terwyl die gebied ’n geproklameerde bewaringsgebied is. Die hof het bevind die ministers se proses was nie deursigtig nie en dat die besluit oorhaastig geneem is.
“Dit wil voorkom asof daar al hoe meer sulke vergrype in die land voorkom en AfriForum sal nie toekyk hoe onwettige mynbedrywighede die land verwoes nie,” sê De Klerk.
Jy kan ons help deur ons #BewaarOnsNatuur-veldtog te ondersteun. Teken die petisie by
https://www.antiek.afriforum.co.za/weg-met-myn-by-krugerwildtuin/
https://www.antiek.afriforum.co.za/en/away-with-mine-at-kruger-park/