Deur Dr Eugene Brink, Strategiese Adviseur vir Gemeenskapsake by AfriForum
Die dood van ’n 95-jarige despoot soos Robert Mugabe sou noodwendig lei tot vreemde odes en doodsberigte, asook gemengde reaksies, in Zimbabwe, Suid-Afrika en oorsee.
Afrika-leiers (die meeste self ook tiranne of ten minste outokrate) wend hulle tot ongenuanseerde heldeverering. En boonop het president Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe belowe dat die regerende party sal verseker dat die status van “nasionale held” nadoods aan Mugabe verleen word.
Baie van die media wêreldwyd, die Zimbabwiese diaspora en groot dele van die publiek in Zimbabwe het niks anders nie as versmading – gedemp en ook meer uitgesproke – vir die gewese leier. Baie blameer hom vir die uiters swak toestande in die land. Sy mishandeling, straffeloosheid, selfverryking en wrede onderdrukking word prontuit veroordeel.
Iets wat nie in die reaksies op sy dood voorkom nie, is viering, want toe hy in 2017 ontsetel is, het dit nie tot ’n tussenregering of ware verandering gelei nie. Dit lyk of Zimbabwiërs meer oor die stand van hulle land rou as oor die dood van hulle gewese leier. Zimbabwe is vandag steeds ’n bakhandgeval en die oënskynlik onmoontlike het gebeur: toestande versleg steeds.
Maar hoewel dit in orde is om gal te braak oor Mugabe se lang totalitêre bewind en die skade wat dit veroorsaak het, is dit baie insiggewender om na die oorsake van hierdie wantoestande, misbruike en ontbering te kyk, want dit is bloot simptome van iets anders. Die grondliggende oorsaak van hierdie onderdrukking – en Mugabe se hoofdoel – was verskanste en absolute (en natuurlik sosialistiese) eenpartyregering. As ons nie hieroor besin nie, sal ’n werklik nuttige debat en oomblik van nadenke verspil word.
Zanubabwe ontvou
Die feit dat Mnangagwa Zimbabwe regeer onder die immer waaksame oë van Zanu-PF en die staatsmasjinerie wat so volkome deur hierdie organisasie beheer word, is bewys dat Mugabe selfs in die dood sy doel bereik het om ’n onbetwiste eenpartybewind te vestig. Hierdie feit verseker dat andersdenkendes en geskoolde gewone Zimbabwiërs, sonder enige hoop dat enigiets ooit sal verander, die land verlaat.
“Mugabe so doel, soos hy van die begin van onafhanklikheid herhaaldelik verklaar het, was om ’n eenpartystaat te vestig wat deur Zanu-PF beheer word. Soos dit geblyk het, het hy die stryd gevoer nie om demokrasie te verkry nie maar om algehele beheer te verkry,” skryf Martin Meredith in sy boek The state of Africa: A history of fifty years of independence.
Mugabe het geweet hy was op die punt om ’n militêre oorwinning te behaal toe die Lancaster House-vredesonderhandelinge in 1979 plaasgevind het. Hy het tydelike toegewings gemaak om die Britse en sommige van die Zimbabwiese politieke rolspelers te paai en het belowe dat grondhervorming op die grondslag van gewillige koper en gewillige verkoper hanteer sal word. Hy het geleidelike verandering belowe (hoewel teensinnig) en het gewese vyande (swart en wit) in sy kabinet en regering opgeneem.
Hierdie welwillendheid het egter nie lank gehou nie. Mugabe het sy vernaamste politieke opponent, Joshua Nkomo, in 1981 uit sy kabinet geskop nadat hy net die vorige jaar aan bewind gekom het. “Nadat hy van Nkomo ontslae geraak het en met (Ian) Smith se Rhodesian Front magteloos, was die pad oop vir Mugabe om te begin met die bou van ’n eenpartystaat, en hy het dit met ywer en sluheid gedoen,” skryf Paul Kenyon in Dictatorland: The men who stole Africa.
Met Nkomo, wie se Zimbabwean African People’s Union (ZAPU) ’n hoofsaaklik Ndebele-party is, uit die pad, kon Mugabe en sy Shona-oorheerste ZANU staatsinstellings gebruik om alle teenstanders uit te skakel. Die regime, gelei deur sy berugte 5 Brigade wat in Noord-Korea opgelei is, het in 1983 begin om tienduisende mense in Matabeleland, die Ndebele-minderheid se hartland, te vermoor, te martel en te verkrag tydens die Gukurahundi-operasie.
In die 1990’s, met ekonomiese nood ’n werklikheid vir die meeste Zimbabwiërs, het hy begin om wit boere te teiken onder beskerming van die parlement. ’n Program van “revolusionêre” grondhervorming is ingestel wat dit vir die staat moontlik gemaak het om die plase te kies wat hulle wou hê ongeag die prys. Dit het tot ’n chaotiese situasie gelei wat meegebring het dat mense met bande met die staat en Zanu-PF, en mense sonder die nodige begeerte of vaardighede om te boer, trofeeplase kon ontvang toe sogenaamde oorlogveterane voor die voet grond gegryp het. Dit het nie net tot baie meer moorde en die ineenstorting van die boerderysektor gelei nie, maar dit het ook die vervaardigingsektor en ander ekonomiese sektore verwoes, ’n groot stuk waardevolle internasionale mening teen die land laat draai en disinvestering verhaas.
Ondanks ’n paar valse paaigebare van Mnangagwa lê Zimbabwe vandag in puin. Die land se mense is onderhewig aan kragonderbrekings van tot 18 uur per dag, kontant- en voedseltekorte, intense deïndustrialisasie, snel stygende brandstofpryse en grootskaalse werkloosheid. Voor die stigting van die Movement for Democratic Change (MDC) in 1999 was die Zanu-PF-bewind bykans twee dekades lank ongestoord in beheer, waartydens ZANU ’n magtelose (en nogtans sosialistiese) ZAPU in 1987 gekoöpteer het om Zanu-PF te vorm. Die onderdrukking en geweld deur Zanu-PF het baie teenstanders natuurlik bang gemaak en uitgeskakel, maar geen burgerlike beweging of opposisieparty het hom gedurende hierdie tydperk teenstand gebied nie. Die Ndebele se vernaamste politieke instrument is oorgeneem en die wit boere en hulle organisasies het uitvlugte gesoek en geswyg oor die Gukurahundi-gruwels en ander aangeleenthede voordat hulle self geteiken is. Hierdie proses en tydverloop het Zanu-PF in staat gestel om party en staat te laat saamsmelt en totale beheer oor die mag te verkry.
Afgesien van die mislukte Regering van Nasionale Eenheid, waarin die verdeelde MDC die rol van ’n junior vennoot gespeel het, was die eenparty-infrastruktuur en -narratief nooit in ernstige moeilikheid nie. Die jongste bewys hiervan is verlede jaar se gebrekkige verkiesing. Opposisie-ondersteuners is wreed mishandel en na ’n mate van teenkanting duur die status quo van eenpartybewind en eliteverryking ongestoord voort. Daar is geen teken dat dit gaan verander nie en Mugabe het die doel bereik wat hy dekades gelede gestel het en waarvoor hy geveg het. Verkiesings is ’n ritualistiese rubberstempel op Zanu-PF-heerskappy, pleks van die bevordering van ware pluralisme.
Suid-Afrika en ANC-hegemonie
Die lot van Zimbabwe moet ’n wekroep vir Suid-Afrika wees, hoewel dit intellektuele luiheid sou wees om regstreekse parallelle te trek. Suid-Afrika het nog nooit ’n Robert Mugabe en Zanu-PF in beheer gehad nie, maar dit beteken nie dat die ANC nie permanente eenpartyregering beoog (oudpresident Jacob Zuma het immers gesê die ANC sal regeer totdat Jesus Christus terugkeer) of dat jy ’n Uncle Bob nodig het om ’n land op skouspelagtige wyse te vernietig nie. Die ANC se oogmerke is duidelik uiteengesit in sy dokumente oor die Nasionale Demokratiese Revolusie, wat op Afrika-hegemonie onder ewigdurende ANC-regering berus. In die praktyk, en beslis in ooreenstemming met Zanu-PF, verleen dit net legitimiteit aan ANC-oorheersing deur met (verarmde en hersenskimmige) Afrika-hegemonie en bevrydingsentiment te smous sonder om veel te doen vir ekonomiese en maatskaplike vooruitgang.
Die ANC se mislukking om die ekonomiese lot van die meeste swart Suid-Afrikaners te verbeter, het meegebring dat hy nou Zanu-PF se kortpad na onteiening sonder vergoeding kies deur sy meerderheid in die parlement te gebruik. Swart ekonomiese bemagtiging, net soos sy “verinheemsing”-eweknie in Zimbabwe, slaag nie daarin om enige sinvolle verandering teweeg te bring nie maar sal nietemin nog geruime tyd beleid bly. As die kolletjies verbind word, is vryheid van spraak besig om uit te rafel.
Soos in Zimbabwe moet die skuld ook voor die deur van die opposisiepartye in Suid-Afrika gelê word. Party van hulle probeer om die ANC te oorbie. Lamsakkige reaksies op skadelike beleide en roekelose gedrag, ideologiese verwarring en na-apery van die ANC dien as aansporing vir die ANC en verdere verskansing van eenpartyregering. Die grootste opposisiepartye in Suid-Afrika – soos wat histories die geval was met Zanu-PF in Zimbabwe – is linkse variante van die ANC. Ideologies gesien, bied hulle in wese meer van dieselfde aan, net sonder die bevrydingsidentiteit. Koalisiepolitiek behaal tot dusver ook gemengde sukses.
ANC-eenpartyregering (met of sonder formele EFF-steun), soos Zanu-PF-regering, sal nie deur naïewe beroepe op grondwetlikheid en welwillendheid alleen ontwrig word nie. Regters in Suid-Afrika is per slot van rekening regeringswerknemers, en daar is geen aanduiding dat hulle die ANC se wangedrag en hegemonie wesenlik in die bek ruk nie, hoewel hulle enkele ongewilde individue soos Zuma al gekasty het. ’n Vreeslose, onafhanklike en sterk burgerlike samelewing, sakesektor en media – wat vandag in Zimbabwe ontbreek – is dus ’n noodsaaklike bolwerk teen eenpartyonderdrukking. Dit is trouens hierdie faktore wat die agteruitgang wat deur die ANC se beleide en optrede veroorsaak word, ten minste vertraag. Ons kan nie net, of selfs in beginsel, op verkiesings reken om ’n ineenstorting soos in Zimbabwe te vermy nie. Daar is nog tyd, maar ons moet sterk en vinnig optree en die owerhede op niegewelddadige wyse konfronteer.