Ek het vanoggend die eerste keer tannie van ’n fris, gesonde babaseuntjie geword.
Vandag dink ek weer hoe waar die woorde is dat dit maar goed is dat die mens nie weet wat die toekoms inhou nie … Hoe op aarde sou ons verlede jaar wou sien dat klein GH vandag alleen, met net sy ma, Christa, en pa, Miela, hierdie wêreld in ’n staat van inperking moet inkom? Verlede jaar was sy ouma Rikki en oupa Boeta dadelik daar toe sy babasussie Marliné op 8 Mei haar opwagting gemaak het.
GH Jansen van Vuuren weeg byna 3 kg en dra die geboortename, Gert Hendrik, van sy oupa (Boeta) en grootoupagrootjie (Gert) Van der Westhuizen. Die vyfde geslag van ’n groot boerefamilie wat in die Vrystaat hul lewenslig aanskou, daar wortel geskiet en die wêreld getem het.
Terwyl ek na die WhatsApp-foto van GH met sy stywe lippies en blou handjies kyk, is dit moeilik om te dink ek gaan dié knapie dalk eers oor ’n hele paar maande (weens die staat van inperking) ontmoet ….
’n Nuwe toevoeging tot ’n gesin in hierdie tyd, is om die minste te sê, nogal ’n vreemde ervaring. Ek lees van al die nuwe ouers wat ouerskap sonder enige hulp moet aanpak en van grootouers wat bewoë na foto’tjies kyk en verlangend wonder wanneer hulle daardie eerste kleinkind vir die eerste keer gaan vashou. Maar dit bly, ook in hierdie onwerklike en onvoorspelbare tyd, ’n klein wonderwerk …. ’n wonderteken van hoop, ’n verwagting, ’n toekoms. ’n Nuwe nageslag aan die suidpunt van Afrika. En ’n mens kan nie anders as om te wonder hoe sy voorouers oor sy koms sou dink en watter boodskap hulle dalk vir hom sou hê nie.
Klein GH se geboorte vandag herinner my ook weer aan die lang gesels- en vertelstories van my eie ouers en grootouers. Die verhale van sukkel en swaarkry op die landerye, in die koeistalle en in die veld agter die skaap in die snerpend koue Vrystaat met sy uitgestrekte vlaktes en spierwit gerypte wintersoggende. Ja, hulle het die Spaanse griep van 1918, die Groot Depressie van 1933 en tientalle ander terugslae, siektes en struikelblokke oorkom en oorleef. Soos my ouma altyd gesê het: “Ons volk en ons mense het altyd opgestaan … Ons het hard gewerk, getrou, kinders gekry, ons gesinne en geliefdes en diere altyd versorg en nooit vergeet dat ons krag en brood van die Here alleen af kom nie.”
My wens vir GH is dat hy eendag aan sy kinders en kleinkinders sal kan vertel dat hy die Korona-pandemie van 2020 oorleef het. Ek wens dat hy in die voetspore van sy voorgeslagte sal kan volg. Ek wens dat hy, soos hulle, ’n liefde vir die grond, vir die plaas en vir diere en die natuur sal hê. Dat hy ’n man van eer sal wees en dat hy sal weet om ’n boer in Afrika te wees, is om geanker te wees en elke dag jou oë na die hemel op te slaan. Dáár waar ons enigste hulp vandaan kom. Ook in dié Covid-19-jaar van onse Heer.
Alet Rademeyer is redakteur van Forum Nuus.
*Foto: Klein GH Jansen van Vuuren.