Die AfriForum-tak in Schweizer-Reneke het ’n deurbraak gehad toe die Mamusa Plaaslike Munisipaliteit ná ’n insiggewende vergadering begin het om onwettige stortingsterreine skoon te maak en om paaie in dié dorp te herstel.
AfriForum se plaaslike takbestuur het op 16 Februarie 2021 ’n vergadering met die plaaslike munisipale bestuurder Rantsho Gincane gehou. Verskeie probleme in die dorp is tydens dié vergadering bespreek. Die vergadering het in goeie gees plaasgevind en Rantsho het die tak oortuig dat hy dadelik aan die werk gaan spring om probleme op te los. Hy het ook vir AfriForum se samewerking gevra.
Die munisipaliteit het op 23 Februarie aangekondig dat hulle in samewerking met die openbarewerkeafdeling die onwettige stortingsareas gaan skoonmaak en het die gemeenskap gemaan om hul samewerking te gee.
Die munisipaliteit het ook begin om slaggate – wat veral sake-eienaars negatief beïnvloed –te herstel.
Volgens Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, het die munisipale bestuurder hom telefonies gekontak en bedank vir sy entoesiasme en positiewe optrede. “Dit is ’n stappie in die regte rigting. Ons is dankbaar vir die goeie en positiewe optrede en werk van die munisipaliteit. Dit is inderdaad so dat, as ons politiek en verskille eenkant sit, kan sake in ons gemeenskappe baie verbeter. Ons sal voortaan gereeld met die munisipaliteit vergader om te verseker dat hulle hul verantwoordelikhede teenoor die gemeenskap nakom,” sê Nieuwoudt.
Sluit vandag nog by AfriForum aan en help ons om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak. SMS jou naam na 45351 (R1) en word deel van die oplossing.