Deur Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake
In AfriForum se Burgerregtemanifes verklaar ons dat ons sonder ophou sal werk vir moedertaalonderwys tot op die hoogste vlak, met inbegrip van die bestaan van enkelmediuminstellings.
Sedert 2006 maak AfriForum dus die publiek bewus waarom die gebruik van moedertaal en moedertaalonderrig juis só belangrik is. Dit is egter makliker gesê as gedaan, omdat baie mense nie besef dat taal meer as ’n kommunikasiemiddel is nie. Hulle opper telkens dieselfde argumente, veral wanneer hulle voorstanders van die gebruik van ’n dominante taal soos Engels in alle ruimtes van die openbare lewe is.
Die eerste misverstand is dat mense wat moedertaalonderrig voorstaan, vyande van alle ander tale is en onderrig daarin teenstaan. Die teendeel is juis waar. Mense wat eers taalgebruik, redenasievermoë en die begrip van abstrakte konsepte (soos byvoorbeeld wiskundeformules) in hulle eie taal bemeester, kry dit baie maklik in ’n tweede, derde of selfs meer tale onder die knie. Deur so lank as moontlik primêr in eie taal te studeer, bevorder ’n student dus sy kans om meertalig te wees. As die onderrigmedium waarin hy studeer sy moedertaal is, kan dit steeds met lesings en studiemateriaal in ander tale aangevul word. In gesonde enkelmediuminstellings is daar een primêre taal van onderrig, maar dit word nie eksklusief gebruik nie.
My een hoofvak aan ’n enkelmediuminstelling was byvoorbeeld Kultuurgeskiedenis en ek het in Afrikaans klas geloop, opdragte gedoen en eksamens geskryf. Ons studiemateriaal was in Afrikaans, Engels, Nederlands en Duits. Omdat ek vlot in Afrikaans kon skryf, lees en redeneer, was al die bronne vir my toeganklik. Ek het moeitevry tussen die tale beweeg – die weergawes en redenasies van Duitse, Nederlandse, Engelse en Afrikaanse kultuurhistorici verskil, omdat elke taal se skrywers weens hulle persoonlike agtergrond, herkoms en kultuur ’n unieke blik op gebeure het. Toegang tot meer bronne het dus beteken dat ek ook meer gebalanseerd na gebeure kon leer kyk, omdat ek nie net met een weergawe daarvan te make gehad het nie. Dit is dus uiters belangrik om te onthou dat ’n pleidooi vir moedertaal nie ’n pleidooi vir eentaligheid is nie. Dit maak die moedertaalspreker ook nie ’n vyand van enige ander taal nie, maar juis iemand wat meer tale akkommodeer.
Die hoë aanvraag na Afrikaanssprekende emigrante in die buiteland bewys dat Afrikaanse enkelmediumonderrig allermins ’n struikelblok vir ’n internasionale loopbaan is.
Die tweede misleidende redenasie is dikwels afkomstig van ouers wat hulle kinders in ’n tweede taal laat skoolgaan, met ander woorde nie in hulle moedertaal nie. Tipies sal hulle sê: “Jaco is in ’n Engelse skool en hy is elke jaar onder die tien beste leerders in sy klas.” Ons is bly dat dit goed gaan met Jaco, maar sy individuele ervaring is nie ’n bewys teen moedertaalonderrig nie. Daar kan baie redes vir Jaco se prestasie wees – hy het dalk ’n uitsonderlike taalaanleg. Dalk presteer hy nou goed in die laerskool omdat die werk redelik eenvoudig is, maar as die hoërskooljare of universiteitstudies aanbreek, begin hy sukkel as die abstrakte leerwerk meer word. Dalk sou hy nog beter gevaar het as die studies in Afrikaans was. Dalk vaar hy so goed omdat hy so hard werk, maar hy haat elke oomblik daarvan …
Ons kan baie spekuleer. Die bewese feite is egter dat almal nie ewe veel aanleg vir tale het nie, nes almal nie ewe veel aanleg vir wiskunde het nie. Hoe langer in ’n tweede taal gestudeer word, hoe minder vlot raak die student in sy eie taal, maar ook in die tweede taal. Interessante studies kom tans na vore in dié verband in Nederland. Daar het universiteite geweldig vinnig verengels en deesdae is daar ’n groeiende probleem met studente wat kwalifikasies behaal, maar nie hulle kennis in die praktyk kan toepas nie, omdat hulle nóg in Engels, nóg in Nederlands werklik vlot op ’n professionele vlak kan kommunikeer.
Die aanpassing in ’n tweede taal stel studente ook voor emosionele uitdagings. Wanneer die skool- of universiteitstaal verskil van die moedertaal, ontwikkel baie studente die gevoel dat hulle eie taal (en by implikasie dus hulle familie en hulleself) minderwaardig is. By immigrantegesinne veroorsaak dit dikwels ernstige “generasiegapings” wat nie net met ouderdomsverskille verband hou nie en tot die vervreemding van beide geslagte lei.
Verskeie kere het Afrikaanssprekende volwassenes ons al vertel dat hulle ouers hulle “vir hulle eie beswil” in Engelse skole gesit het, maar dat hulle nou hulle ouers vir die keuse verkwalik. Hulle vertel dan dat hulle kultureel sukkel om iewers in te pas en voel dat die kans om deel van hulle eie kultuur te wees, tydens hulle skooljare van hulle ontneem is. Hierdie insig word helaas eers by nabaat verwerf, maar ouers moet daarvan kennis neem en besef dat kinders se sukses nie sommer deur ’n keuse vir ’n dominante wêreldtaal verseker kan word nie.
Derdens hoor ons gereeld “dat Engels die dominante wêreld- en besigheidstaal is en mense dit maar moet aanvaar”. Dikwels is dit op hoorsê gebaseer, of op beperkte reiservarings. My persoonlike ervaring is dat ek my al lelik vasgeloop het in vele lande wanneer ek net op Engels staatgemaak het. Die taal waarin iemand gaan werk, gaan afhang van wat hy doen en waar hy werk. ’n Dokter in KwaZulu-Natal wat sy pasiënte se belange op die hart dra, sal moet Zulu leer. In Genève gaan jy vinnig jou Frans moet opskerp in enige beroepsveld. Op die Tsjeggiese platteland gaan waarskynlik net Tsjeggies en Russies werk.
Die vierde vergissing is dat die gebruik van een taal samehorigheid en vrede bevorder. Mense wat geborge voel, is mense wat verdraagsaam teenoor ander voel. Mense wat bedreig of misken voel, is gewoonlik aggressief en op die verdediging. Wanneer jy jouself ten volle in jou taal kan uitleef, voel jy ook veilig en gun jy dieselfde voorreg vir ander. Spartel jy in ’n tweede taal, raak jy krapperig, ly jy onder misverstande en wonder jy waarom ander dit maklik het, terwyl jy moet sukkel. Hoe meer dienste in moedertale beskikbaar is, hoe rustiger (en uiteindelik dus welvarender) sal gemeenskappe wees.
Ons leef in ’n tyd waar tegnologie kommunikasie en veeltaligheid tegnies ál makliker maak. Ons moet hierdie kans aangryp om ons eie moedertaal te versterk, en ook geleenthede vir ander moedertale te skep. Van die maniere waarop dit gedoen kan word, is om tegnologie in ons eie tale te gebruik, soos om by die OTM jou taalkeuse vir transaksies uit te oefen, om Afrikaans as gebruikstaal van jou sel- of slimfoon te kies en om Afrikaanse vertaalprogramme en speltoetsers te gebruik. Laasgenoemde is ver van perfek af, maar bied gewoonlik opsies waar verbeteringe bygevoeg kan word. Wanneer jy dit doen, bou jy aan die gehalte en gebruikersvriendelikheid van die program. Selfs deur net die Wikipedia-opleidingsprogramme van Maroela Media en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) by te woon, kan jy leer om artikels hiervoor in Afrikaans te skep. Op al hierdie maniere gee ons eietydse betekenis aan ons moedertaal en behou ons ook die wortels daarvan wat op die diepste vlak die basis van ons aard en kultuur is.
Moedertaal is dus veel meer as die kommunikasiekanaal tussen moeder en kind. In die woorde van dr. Fernand de Varennes, die VN se spesiale rapporteur van minderheidsregte, is dit omvattend – dit is identiteit; geleenthede; mag; en ten slotte ook wie ons is.