Deur Johan Nortjé
“Dade, nie woorde nie”
Leuse van die Kanadese Gesamentlike Taakmag 2
Ek tel een van die trekbokse op en stap na die voordeur. Ek is besig om ’n vriend te help om te trek. ’n Agterstoep wat lank gelede ’n patio was grens teenaan die enkelverdiepinghuis en die voorstoep, waarvan die verf afdop, kyk uit oor die slaggatbesaaide hoofstraat met dowwe straatligte. Hoewel die tuin – net soos die bure s’n – lyk soos ’n verlate openbare parkie met knie-hoogte gras wat op reënwater in plaas van kraanwater floreer, is dit byna vyf keer die oppervlakte van die huis.
Die buurt is nie heeltemal verwaarloos nie, maar vêr verwyder van die privaat leefstyldorpe waar jy jou lisensie moet skandeer en jou internet-geskiedenis moet verklaar as jy inteken.
’n Paar maande later maak ek weer ’n draai. ’n Nuwe laag verf bedek die mure. Die tuin wat eens gelyk het soos ’n vaal skildery, lyk nou soos ’n Victoriaanse tuin met kleurvolle blombeddings. Nóg meer, die bure se gras is ook gesny. Die buurt was nog nie heeltemal opgeknap nie, maar die metamorfose het stadig begin.
Mense vergeet dat verwaarloosde woonbuurte eens op ’n tyd nuut was en hulle sien gevolglik net vervalle geboue, stukkende pype en vensters, vullis wat ophoop en takke wat soos kraaineste oor dakke groei raak, asook die toenemende openbare misdaad wat gewoonlik hiermee gepaard gaan, terwyl nuwe of gerestoureerde geboue nie gewoonlik vandale lok nie.
In die boek McMafia: A journey through the global criminal underworld verduidelik ’n staatsaanklaer dat van die eerste take wat hulle aangepak het om dwelmhandel in ’n binnestad/middestad hok te slaan was om in daardie areas die omgewing skoon te kry en op te knap. Die idee hieragter sluit aan by wat kriminoloë die “gebreektevensterteorie” noem.
Die teorie, wat in 1982 gepubliseer is in ’n invloedryke artikel deur James Q. Wilson en George Kelling, dien as metafoor vir die oorsaak van die gebrek aan orde in woonbuurte. Daarin maak hulle die aanname dat indien een gebreekte venster (hetsy deur nalatigheid of vandalisme) van ’n gebou nie herstel word nie, die veronderstelling bestaan dat vandale waarskynlik nog vensters sal breek. Hierdie neiging kan ook mettertyd na aangrensende gebiede versprei. Met ander woorde, gebreekte vensters wat nie vervang word nie, stuur ’n subtiele boodskap dat persone nie omgee oor hulle omgewing nie en dat onvanpaste gedrag, weens ’n gebrek aan orde, geduld word.
Die gebreektevensterteorie vloei grotendeels uit ’n eksperiment oor vandalisme deur die Stanford-sielkundige Philip Zimbardo. In Zimbardo se studie is twee soortgelyke motors onbewaak gelos in twee uiteenlopende sosio-ekonomiese buurte. In die eerste, minder welvarende buurt is die voertuig beskadig kort nadat dit in die straat gelos is. In die meer welvarende buurt het die inwoners eers die voertuig uitgelos – totdat die navorsers die voertuig as deel van die studie beskadig het. Die gevolg was weer eens dat vandale oorgeneem en die voertuig verniel het. Die bevindinge dui daarop dat vandalisme, ongeag die omgewing se sosio-ekonomiese agtergrond, kan seëvier indien mense die subtiele boodskap ontvang dat niemand omgee nie.
Polisiedepartemente in die VSA sowel as Europa het al verskeie weergawes van dié teorie beproef. Die daling van openbare misdaad in New York gedurende die vroeë 90’s is seker die bekendste voorbeeld van die gebreektevensterteorie in praktyk. Die afname in geweldsmisdaad is in ’n 2001-studie deur die Manhattan Institute bevestig. Die instituut het verklaar dat die gebruik van gebreektevensterpolisiëring hierdie afname in geweldsmisdaad tot gevolg gehad het. Daar is selfs al voorgestel dat Amerikaanse buitelandse beleid daarby sal baat om die gebreektevensterbenadering te volg. Die Pulitzer-bekroonde rubriekskrywer Bret Stephens van die Wall Street Journal meen dat die VSA ’n mate van orde tot die anargistiese politieke stelsel kan bring. Deur nie die gedrag te duld van lande wat internasionale reëls oortree nie (lande wat ander lande se metaforiese vensters breek) stuur die VSA ’n boodskap dat hulle “omgee” oor die norme van die internasionale politieke arena.
Met paaie wat verbrokkel, misdaad, gloeilampe wat soos spaghetti van straatligte af hang en dromme wat oorloop van vullis, is dit maklik om ’n apatiese houding in te neem teenoor ’n vervalle omgewing. Boonop kan die sogenaamde toeskouerverskynsel (die beskouing dat persone versuim om ander te help, indien hulle aanneem dat daar reeds iemand anders is wat hulp verleen) ook apatie verhoog. Dit is verstaanbaar gegewe die feit dat dit tyd en toewyding vereis om eienaarskap van ’n plek te neem, en mense selde verantwoordelikheid neem vir die stand van sake buite hulle direkte ligging. Hulle besef nie dat gebreekte vensters gevolge het nie.
Ten spyte hiervan is daar wel talle voorbeelde waar individue, gemeenskappe en organisasies werk en saamwerk om te verseker dat die “boodskap” van wanorde nie oorgesien word nie. Dit is byvoorbeeld sigbaar in die werk wat AfriForum as burgerregteorganisasie doen. Op grondvlak is hulle betrokke in gemeenskappe deur eenvoudige opknappings te doen, die gras in toegegroeide parke te sny, massapatrollies in buurte te hou, of slaggate te herstel. Hierdie deelname berus grotendeels op aktiewe burgerskap – die idee dat persone verantwoordelik is vir hulle gemeenskappe. Burgerregte bevat meer as die koestering van regte en die voldoening aan hofbevele. Dit vereis die kosbaarste van menslike kommoditeite – om tyd op te offer, al kan jy nie die tasbare uitkoms daarvan dadelik sien nie.
Of hulle nou bewus is daarvan of nie, hierdie dade deur vrywilligers verseker dat krake in die glas nie in gebreekte vensters ontaard nie.
Johan Nortjé is ’n navorser by AfriForum Navorsing.