Deur Alet Rademeyer
Die departement van basiese onderwys se voorgestelde plan om gr. 11’s voortaan kans te gee om matriek oor twee jaar te voltooi, is ondeurdag en nie die oplossing vir swak onderrig nie.
Só meen verskeie onderwyskenners met wie Forum Nuus gepraat het.
Volgens die kenners is die dilemma dat die departement weer eens op die verkeerde plek vir oplossings soek. “Die departement het ’n baie groot probleem weens swak gehalte-onderrig vanaf die vroegste grade. Hierdie is om nou ’n pleister op ’n sweer te probeer plak.
“As kinders nie reeds in die grondslagfase (gr. 1 – gr. 3) goeie onderrig kry en basiese begrippe onder die knie kry nie, help dit nie om hulle in die hoërskool te probeer deursit nie.
“Die hoë druip- en uitvalsyfer, veral in gr. 10 – gr. 12 is die gevolg van byna 80% disfunksionele skole in die land. Die departement het ’n enorme probleem met bykans 50% van kinders wat skool begin, maar nie hul loopbane voltooi nie.”
Nog ’n kenner het op die praktiese en logistieke nagmerrie gewys indien die plan aanvaar word. Hy het talle vrae soos hoe die plan op skoolvlak toegepas gaan word. Waar gaan daar ekstra onderwysers en klaskamers vandaan kom? Hoe gaan die rooster in skole wat reeds oorvol is, ingedeel word om vir ekstra matrikulante voorsiening te maak? Kan die onderwysdepartement en Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding, ’n stelsel monitor waar daar skielik meer as 800 000 kandidate jaarliks eksamen gaan aflê?
Forum Nuus het ook met ’n sielkundige gepraat wat bedenkinge oor die voorgestelde plan het. “’n Mens moet jou afvra of dit tot voordeel van leerlinge gaan wees om hulle langer op skool te probeer hou terwyl hulle reeds sukkel. Dan is daar ook die kwessie van die boodskap wat uitgestuur word dat jy maar kan druip omdat jy in elk geval deurgesit gaan word en dan boonop kans gaan kry om jou matriek oor twee jaar te doen.
“In die skool van die lewe werk dit nie so nie en hierdie kandidate wat aan middelmatigheid blootgestel word, gaan na skool baie swaar kry. Hulle gaan byvoorbeeld glad nie op tersiêre vlak die mas opkom nie omdat hulle nie aan groot hoeveelhede werk blootgestel was nie. Indien van hulle gelukkig genoeg is om wel ’n werk te kry, gaan hulle ook daar sukkel omdat werkgewers nie agteroor gaan buig en geneë sal wees om iemand in diens te neem wat nie aan ’n bepaalde pas van werk en etiek blootgestel was nie.”
In die lig van die kommerwekkende situasie by die land se universiteite, kan hierdie voorstel verdere verreikende implikasies hê. Universiteite sal nuwe toelatingsvereistes moet opstel vir kandidate wat matriek oor twee jaar verwerf. Die instellings sal ook meer verlengde programme moet instel omdat kandidate wat op skool gesukkel het nie in die voorgestelde tydsraamwerk hul kursusse sal voltooi nie.
Instellings gaan nog meer onder druk wees as hulle gedwing word om swakker kandidate in te neem aangesien die uitvalsyfer van eerstejaars en diegene wat nie hul studies voltooi nie reeds onaanvaarbaar hoog is.
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het ook vrae oor die voorstel. “Dit is nie ’n oplossing vir swak onderrig nie en dit gaan skoolverlaters beslis nie beter toerus nie. Een oneffektiewe jaar gaan bloot net twee oneffektiewe jare word.”
Volgens Bailey is beter leierskap in onderwys nodig om swak onderrig te pak en seker te maak dat kinders reeds van vroeg af goeie onderrig kry.
Bailey is ook skepties of hierdie ’n oplossing vir die werkloosheidskrisis onder veral jeugdiges is. ’n Swak matriek gaan nie werksgeleenthede skep nie. Sy meen die staat moet kyk na naskoolse opleidingsgeleenthede wat jongmense met beter vaardighede toe rus sodat hulle ook self werk kan skep.