Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch
Dit blyk dat die Universiteit Stellenbosch (US) met elke nuwe taalbeleid teen ’n versnelde en rampspoedige spoed op pad na totale verengelsing is. En dít met Afrikaans as vyand nommer een.
Met ’n nuwe konseptaalbeleid wat Afrikaans as inheemse taal ontken, akademici wat die media moet nader om hul misnoeë oor hul vakgebied uit te spreek en koshuise wat studente verbied om hul moedertaal in die gange te praat, wil dit voorkom of dié universiteit, nou meer as ooit, ’n uiters vyandige omgewing nie net vir veeltaligheid nie, maar veral vir Afrikaans geword het.
Boonop het die US onlangs sy nuwe kenteken bekend gestel, waar die Afrikaanse woord daarop tot heel onder afgegradeer is. Die Afrikaanse woord “universiteit” het voorheen altyd eerste gestaan. Op die nuwe embleem is die volgorde omgeswaai met Afrikaans heel onder: University – iYunivesithi – Universiteit.
Die universiteit het vroeër vanjaar aangekondig dat sy huidige taalbeleid (van 2016) ook weer vanjaar hersien sal word. Die eerste geleentheid vir openbare deelname het op 12 April gesluit en ’n tweede geleentheid word vir later vanjaar beplan. Dié sogenaamde parallelmediumbeleid van 2016 het die taalbeleid van 2014, waarvolgens Afrikaans en Engels gelyke akademiese status het, vervang.
Nog voordat die huidige taalbeleid amptelik goedgekeur is, het dit vroeg in 2016 aan die lig gekom dat die US reeds van die 2014- taalbeleid begin afwyk het. In hofstukke van 2016 het die US erken dat daar op daardie stadium in 268 modules in sewe fakulteite van die taalbeleid afgewyk is en dosente in sekere fakulteite het klaarblyklik op groot skaal na slegs Engels oorgeslaan.
AfriForum Jeug, wat sedert 2015 aktief op die US-kampus is en toe reeds begin het om aanspraak te maak op gelyke en inklusiewe taalregte en meertaligheid, het hom in 2016 tot die hof gewend om die universiteit te dwing om sy 2014-beleid toe te pas nadat die bestuur tóé in die beleidshersieningstydperk wou voortgaan om eensydig daarvan af te wyk sonder dat die nodige konsultasieprosesse gevolg is.
Die drukgroep, Gelyke Kanse, wat hulself onder leiding van die digter Breyten Breytenbach vir die behoud van Afrikaans beywer, het ook tot die taalbeleidstryd toegetree en aangevoer dat die universiteit destyds die 2016-taalbeleid aangepas het nié vanweë praktiese uitkomste oor hoe Afrikaans op die kampus behoue sou bly nie, maar weens die politieke druk van die grootskaalse studenteprotes van daardie tyd.
Ondanks ’n lang hofstryd van beide AfriForum Jeug en Gelyke Kanse is daar egter tydens ’n raadsvergadering in Mei 2016 deur die US-raad besluit dat Afrikaans en Engels nie meer gelyke status moet geniet nie en dat Engels voortaan die onderrigtaal moet wees.
Volgens prof. Arnold Schoonwinkel, voormalige viserektor van leer en onderrig, is dié beleid aanvaar sodat “studente aan die US in die taal van hul keuse kan studeer”. Hy het in Mei 2016 aan die parlementêre portefeuljekomitee oor hoëronderwys verduidelik dat die US-raad in November 2015 ’n mosie aanvaar het dat “Afrikaans as taal nooit weer ’n hindernis moet wees vir enige student wat aan die US wil studeer en nie Afrikaans vlot kan praat nie”.
In Junie 2016 is die nuwe taalbeleid egter aanvaar en in 2017 het dit amptelik in werking getree. Volgens ’n verklaring wat die US kort ná die goedkeuring van die nuwe beleid uitgereik het, staan die vertrekpunte van sy 2016-taalbeleid “in skerp teenstelling” met die indruk dat die universiteit geswig het onder die druk van protesgroepe en vrese “dat die US sou brand as daar nie ’n nuwe taalbeleid aanvaar word nie”.
“Die vertrekpunt is kennisoordrag deur meer as een taal, ingestel op die behoeftes van studente,” het Susan van der Merwe, toe US-woordvoerder, destyds in die verklaring gesê.
Volgens die eerste konsep van die US se nuwe hersiene taalbeleid (wat in 2022 in werking moet tree) is Afrikaans en Engels die US se “leer- en onderrigtale” in voorgraadse studie. Talle kenners en kritici is skepties oor wat hierdie bepaling vir Afrikaans beteken. Wat tot dié skeptisisme bygedra het, is onlangse onthullings op die kampus waar studente deur huiskomiteelede verbied is om in ruimtes soos koshuise Afrikaans met mekaar te praat.
Verder word daar in die konsepbeleid gesinspeel dat Afrikaans nie ’n inheemse taal is nie. Voorts word genoem taal aan die US behoort toegang tot akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste te verbreed “eerder as om ’n hindernis vir studente of personeellede te wees”.
Só word die woord “hindernis” wéér gebruik wanneer meertaligheid in ’n US-taalbeleid ter sprake is.
Die historikus en taalstryder prof. Hermann Giliomee sê dat die onlangse gebeure by die US en die nuwe konseptaalbeleid opnuut bewys dat die universiteit se fokus by die bestuur en nie die studente lê nie. Giliomee, wat by beide US en die Universiteit van Kaapstad (UK) klas gegee het, sê dat hy as dosent veral by UK gesien het watter groot verskil ’n onderrigtaal maak in die wyse waarop studente ontwikkel en hulself uitdruk. “Ek het as dosent eerstehands gesien hoe die gebrek aan vaardigheid in Engels vir veral swart studente ’n struikelblok was omdat hulle moes terugval op hul tweede taal om in te leer.”
Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk, het ook sy misnoeë oor die nuwe konseptaalbeleid uitgespreek. Die DAK Netwerk is vernoem na die Khoi-leiers Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa. Aldus hul webtuiste is hul ’n organisasie “wat ten doel het om te arbei vir die bemagtiging van agtergestelde Afrikaanssprekendes, want 60% van die Afrikaanse gemeenskap bestaan uit bruin, swart en Indiër Suid-Afrikaners.”
Die DAK het op 9 April 2021 ’n protesoptog deur Stellenbosch se strate gelei om hul verontwaardiging met die universiteit se konseptaalbeleid te kenne te gee. Volgens Van Wyk is dit tragies dat Afrikaans, wat ’n bydra gelewer het om US as ’n internasionaal erkende en gerespekteerde akademiese instelling daar te stel, heeltemal ontken word deur die universiteit. “Afrikaans is so inheems soos die kokerboom, soos die fynbos. Dis deel van Suid-Afrika, dis deel van Afrika. Dis die taal waarin ek my daaglikse brood verdien. Afrikaans het op ons bodem ontwikkel tot waar hy vandag ‘n gevorderde wetenskapstaal is.”
Volgens Van Wyk is die verpolitisering van Afrikaans iets wat in die verlede hoort. “Daar is baie bagasie aan die taal, maar Afrikaans moet ‘gedepolitiseer’ word. Engelssprekendes word nie benadeel met die sogenaamde ‘akkommodering’ van Afrikaans by die US nie.”
Die Akademie vir Wetenskap en Kuns het ook hul stem by die kritiek op die gebeure by US gevoeg. Hulle het in ’n mediaverklaring waarsku teen wat hulle noem die universiteit se “verbeeldinglose omgang” met die werklikheid van veeltaligheid. Volgens prof. Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die akademie, wil dit voorkom of die waarde van Afrikaans deur die US geringgeskat word. Die akademie het ’n beroep op die universiteit gedoen om sy jongste konseptaalbeleid grondig te hersien. “Stellenbosch se opvoedingsgemeenskap verdien dit,” meen prof. Beukes.
Die DA het ook geëis dat daar ’n konferensie gehou moet word waarop belanghebbendes die geleentheid kry om die tekortkominge van die 2016-taalbeleid te bespreek. Dr. Leon Schreiber, DA-LP en kiesafdelingshoof vir Stellenbosch, het die beleid as ’n verdere afwatering van die US se Afrikaanse aanbod beskryf. Dié party, sowel as die VF Plus, het ook klagtes by die Menseregtekommissie (MRK) oor die sogenaamde verbod op die gebruik van Afrikaans as omgangstaal in koshuise ingedien. Luidens mediaberigte het adv. André Gaum, MRK-kommissaris, bevestig dat die MRK ’n ondersoek oor dié klagtes gaan instel.
AfriForum het ook onlangs die universiteit oor die kole gehaal oor onder meer die koshuis-gebeure én ’n onlangse versoek van die akademiese beplanningskomitee van die US se senaat dat alle nuwe kursusse aan die universiteit slegs in Engels aangebied word. “Volgens dié komitee het die COVID-19-pandemie en die gevolglike aanbied van afstandsonderrig, -leer en -assessering geweldige druk op dosente tot gevolg gehad en eentalige Engelse aanbieding van onderrig sal dié druk verlig. Dat dié besluit druk op Afrikaanssprekende studente gaan verhoog, skeel dié komitee blykbaar min,” sê Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum.
Hoewel die universiteit gesê het dat dié ooreenkoms slegs vir ’n bepaalde tyd sal duur, sê Bailey verder dat dié versoek net nóg ’n gebeurtenis is wat die US se gebrek aan verbintenis tot veeltaligheid, en meer spesifiek tot Afrikaans, illustreer. “US het ’n groot en uiters bekwame taalsentrum wat ondersteuning kan verleen aan dosente wat probleme ervaar. Afstandonderrig het ook besparings tot gevolg, wat beteken dat die aanbod van dié dienste selfs uitgebrei sou kon word as die nood dan werklik só hoog is. Ons leef in ’n tyd waar tegniese ontwikkeling die aanbied van meertalige dienste gedurig verbeter en vergemaklik. Die universiteit se nuwe taalbeleid wat in die vooruitsig gestel word, sal verder toon tot watter mate die bestuur se verbintenisse tot die bevordering van Afrikaanse studente se taalregte lippediens is al dan nie,” voeg Bailey by.
AfriForum Jeug het in ’n skrywe aan prof. Wim de Villiers, visekanselier en rektor by die US, kommentaar gelewer op die voorgestelde US-taalbeleid en onder meer geëis dat beide Afrikaans en Engels ten volle as voorgraadse tale gebruik word. Praktiese oplossings om hierdie model stabiel te bestuur, is ook gegee en die studenteorganisasie is ook van mening dat indien die behoefte daar is, ’n addisionele taal vir onderrigdoeleindes ingestel kan word soos IsiXhosa.
Die US het ook kritiek uit eie geledere gekry toe sy departement van Afrikaans en Nederlands in ’n ope brief in die media aan De Villiers gevra het dat die universiteit “dringend ’n noodsaaklike kopskuif moet maak”. Luidens die brief is werklike veeltaligheid, eerder as slegs Engels, nie net ’n wetenskaplik verantwoordbare pad vorentoe nie, maar die mees etiese een. In die brief word talle uitdagings uitgelig wat studente en akademici tans ervaar, onder meer dat party studente verbaas is dat hulle in Afrikaans met hul dosente mag kommunikeer, terwyl dit strydig met die 2016-taalbeleid is.
Philip Spies, ’n toekomskundige en voorheen verbonde aan die Instituut vir Toekomsnavorsing van die US, het onlangs in ’n rubriek geskryf dat die taalpraktyke wat vorentoe by die US gaan oorheers uiteindelik nie eers deur die taalbeleid op sigself bepaal sal word nie, maar deur die “aard” van die instelling.
Ondanks al die kritiek meen De Villiers dat die US ’n toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit is “wat homself tot meertaligheid verbind, want dit voeg waarde toe en verryk studente se leerervaring.”
Die vraag is egter wat De Villiers as ’n “meertalige benadering” beskou, want talle studente kan heel moontlik daarvan getuig dat die “aard” van die US se huidige benadering, wat hul moedertaal akademies afwater, ontken én verbied, hul leerervaring beslis nie verryk nie, maar eerder verarm.
Verder is Afrikaans heel moontlik, soos sy rang op die nuwe embleem aandui, nou finaal toegesnou waar sy plek op dié kampus is, naamlik heel laaste …