Header Artwork


Die burgerregte-organisasie AfriForum het verlede week ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (die PAIA-wet) by die Departement van Binnelandse Sake ingedien oor die vervalle toestand van die grensdrade tussen Limpopo en Zimbabwe.
’n Brief is ook gerig aan prof. Hlengiwe Buhle Mkhize, minister van binnelandse sake, om ’n dringende vergadering tussen die betrokke partye te reël om sodoende ’n oplossing te probeer vind.
Dié aksie volg nadat AfriForum ’n grensdraadouditprojek van stapel gestuur het wat bevind het dat daar feitlik geen grensdrade meer tussen Limpopo en Zimbabwe bestaan nie. Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, is die klein gedeelte grensdraad wat nog bestaan ook vol gate waardeur enigiemand maklik kan klim.

“Die grensdraad is in ’n baie slegte toestand en op die verskeie plekke is daar geen drade meer oor nie. Mense, diere en voertuie is vry om heen en weer oor die grens te beweeg en daar is absoluut geen beheer nie,” sê Grobbelaar.

In die PAIA-aansoek versoek AfriForum dokumente wat die begroting vir grensdrade en die instandhouding daarvan weerspieël, asook toekomstige aksieplanne vir verbetering.

“Aktiwiteite soos korrupsie, smokkelary, dieresiektes, stropery en mensehandel is van die grootste misdade wat oor die grens heen plaasvind en ’n negatiewe invloed op sowel Suid-Afrikaners as Zimbabwiërs het. Dit kan alles toegeskryf word aan die swak toestand en instandhouding van grensdrade, en korrupsie deur weermagamptenare,” voeg Grobbelaar by.
“AfriForum beskou dit as ’n ernstige probleem en doen ’n beroep op die minister om die probleem met alle erns aan te spreek,” sê Grobbelaar.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN