Deur Dr. Eugene Brink
Die brein is baie belangrik en terselfdertyd geweldig veerkragtig. Dit kán herstel én genees word.
Só het prof. Nola Dippenaar, emeritus professor aan die Universiteit van Pretoria (UP) en gesondheidskenner, op 20 Mei 2021 tydens ’n praatjie oor breingesondheid by die AfriForum Teater gesê. “So kort gelede soos tien jaar terug was ons nie eens bewus van hierdie feite nie, maar gesaghebbende navorsing het intussen getoon dit is inderdaad die geval.
Sy noem ’n paar bedreigings (asook raad) vir die brein waarop ons bedag behoort te wees en beklemtoon dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde brein huisves. “Die eerste een is inflammasie en dit is ewe skadelik vir die brein as vir ander dele van die liggaam. Die tweede een is ’n gebrek aan voedingstowwe en die derde vername een is die blootstelling aan gifstowwe.
“Ons kan nie aspekte soos gene beheer nie, maar dit behels slegs 20% van ons gesondheid. Die ander 80% is keuses wat ons maak oor byvoorbeeld leefstyl, asook omgewingsfaktore.
“Dit is daarom belangrik dat ons ordentlik slaap en sowat sewe tot agt uur se goeie nagrus kry. Voorts moet jy daagliks oefen, al is dit net matige oefening soos stap. Oefening help om serebrale bloedvolume op te stoot. Dit help weer om nuwe breinselle in veral die hippokampus-deel van die brein, wat met geheue te make het, te vorm.
“Daar is ’n wanpersepsie dat breinselle nie opnuut gegenereer kan word nie, maar dit kan wel deur middel van gereelde oefening gebeur. Uiteindelik beveg oefening depressie en dit is ’n teengif vir veroudering. Die menslike brein weeg 1,3 kg, maar gebruik 20% van jou liggaam se daaglikse suurstof. Dit het dus die verhoogde suurstof nodig wat oefening bied om goed te kan funksioneer.”
Oefening is veral belangrik om jou stresvlakke af te bring. “Chroniese stres beskadig juis die hippokampus en keer die vorming van herinneringe. Dit kan teengewerk word deur onder meer te oefen. Die skade wat bedreigings soos hoë emosionele stres aan jou lyf en brein aanrig kan op hierdie wyse omgekeer word.”
Volgens haar hou jou brein se gesondheid regstreeks verband met wat in jou maag aangaan – of eerder, wat daar ingaan. “Suiker en gluten is daarom vername gevare wat jou brein betref. Suiker en verfynde koolhidrate (soos gaskoeldrank, witbrood en sjokolade) veroorsaak dat die ingewande al hoe meer deurdringbaar word en dit kan dan tot inflammasie, depressie en demensie lei.”
Sy beveel aan dat ons ’n Mediterreense dieet volg, waarvolgens ’n derde van jou etes uit diermateriaal bestaan en twee derdes uit plantmateriaal. “Antioksidante is uiteraard baie belangrik en daarom moet ons soveel gesonde kosse met kleur eet, soos groente en vrugte, sowel as seekos.”
Sy raai ons aan om baie oordeelkundig met drankinname te wees en meer vitamien D in te neem. “Alkohol stel groot hoeveelhede dopamien in die brein vry en dit skep ’n euforiese gevoel – soortgelyk aan die uitwerking van rook. Dit laat ons weer aanhou drink om daardie gevoel te hou, maar uiteindelik belemmer dit die kognitiewe leervermoë van die brein indien dit in oormaat ingeneem word.
“Soos ons ouer word, bring ons meer tyd binnenshuis deur en minder buite. Ons kry dus nie genoeg blootstelling aan sonskyn nie en ons vitamien D-inname ly daaronder. Vitamien D is belangrik om breinsinapse te skep en onderhou en daarom is blootstelling aan sonskyn, waaroor ons gelukkig baie in Suid-Afrika beskik, van groot waarde vir ons breine.”