Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch
Die prentjie wat daar van die Suid-Afrikaanse jeug geskets kan word, meer as vier dekades na die Soweto-opstande van 1976, is ’n duidelike teken dat die regering jongmense nie net gefaal het nie, maar hulle aanhou flous met wat demokratiese vryheid werklik vir hulle en die toekoms beteken.
Jaar in en jaar uit buit politici, veral in ANC-geledere, die Soweto-opstande uit om jongmense te laat nadink oor die sogenaamde “vordering” wat daar vir hulle gemaak is sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994. Soos ’n plaat wat vashaak, word daar jaar na jaar pragtige praatjies gelewer waarin die ANC-regering hul onherroeplike verbintenis tot die opheffing en bemagtiging van jongmense belowe.
Dié plaat haak egter al té lank vas.
Ná byna drie dekades van demokrasie is die vraag steeds wat die ANC se sogenaamde “ondersteuning” vir jongmense opgelewer het en wat die jeug werklik het om te vier? Die toename in skool- en universiteitsprotesoptogte, werkloosheid, armoede en geweld onder die jeug is bewyse daarvan dat die “born frees” begin herbesin oor wat hul vryheid beteken.
Die jeug is geflous om te glo dat “toegang” tot skole of universiteite vir hulle ’n blink en voorspoedige toekoms gaan verseker.
Terwyl die toegang tot onderwys sedert 1994 verbeter het, word daar vandag ook meer gefokus op die waarde van ’n skool se naam as die waarde van die onderrig wat die skool bied. Internasionale assesserings soos die Studie oor die Tendense in Internasionale Wiskunde en Wetenskap (TIMMS) onthul vir die afgelope paar jaar dat Suid-Afrika steeds een van die slegste onderwysstelsels ter wêreld het. Die 2015-resultate het getoon dat Suid-Afrika tweede laaste plek behaal het uit 48 lande vir graad 4-wiskunde, tweede laaste vir graad 8-wiskunde en laaste plek vir graad 8-wetenskap uit 38 lande. Soos wat die gehalte van Suid-Afrikaanse onderwys daal, só daal die bydra wat jongmense kan lewer.
Universiteite het ook politieke speelgronde geword waar gesonde studentetradisies en moedertaalonderrig geteiken word en buitestanders met rooi barette ’n groter invloed op universiteitsbesture kan uitoefen as die studente wat die instansies belowe om te bemagtig en beskerm.
Ongeveer ’n vyfde van die land se bevolking is in of na 1994 gebore. As die definisie van jeug uitgebrei word tot diegene tussen 15 en 34 jaar, maak die jeug byna 55% van die bevolking uit. 63% van hierdie deel van die bevolking, waarvan baie belowe is dat hul lewens beter as hul ouers s’n gaan wees, is tans werkloos.
Is dit dan verbasend dat Jeugdag net ’n hol ritueel vir party en ’n onbelangrike vakansiedag vir ander geword het? Pres. Cyril Ramaphosa het in sy nuutste weeklikse nuusbrief gesê dat hy geskok was om te verneem dat ‘n onlangse opname bevind het dat ‘n aansienlike aantal mense wat tussen 1997 en 2015 gebore is – Generation Z genoem – min of niks van 16 Junie 1976 weet nie.
Hy het verder gesê dat die generasie wat gebore is nadat apartheid beëindig is, ‘n land geërf het met ‘n demokratiese grondwet en waar fundamentele vryhede beskerm word. Sal die president egter daarmee gemaklik wees om vir Hector Pieterson, wat destyds sy lewe tydens die Soweto-opstande verloor het, te wys hoe teenstrydig dié opmerking is?
Volgens die resultate van die Birth to Twenty Plus-studie wat in 2018 in die Suid-Afrikaanse mediese joernaal gepubliseer is, word 99% van kinders in Soweto in ‘n stadium in hul lewens blootgestel aan uiterste vorme van geweld. Sal die president vir Hector kan verduidelik hoekom geweld teen vroue en kinders, veral in plekke soos sy tuisdorp, teen ’n versnelde tempo styg?
Sal die president vir Hector kan verduidelik hoekom talle kinders van die Ngmathe-gemeenskap in Nkandla na soveel jaar daagliks deur gevaarlike riviere moet loop om by hul naaste skool te kom én dat sy regering al 20 jaar sloer om nog ’n skool in dié gebied te bou? Sal hy met trots vir Hector deur NSFAS vir ’n beurs laat aansoek doen wat nooit betyds of net nooit uitbetaal sal word nie? Sal hy vir hom kan verduidelik waarom inheemse tale soos sy eie steeds nie verder ontwikkel is nie?
Een ding wat die president gesê het, is egter waar: En dit is dat die jeug herhaaldelik daaraan herinner moet word dat die krag om ’n beter toekoms vir hulself te skep in hul eie hande lê.
Ja, die antwoorde lê beslis nie in die regering se hande nie. Jongmense moet nou meer as ooit eienaarskap van hul toekoms neem en nie die huidige toestande waarin ons as ‘n land verkeer verder duld en veral nie normaliseer nie. Jeugdag behoort ‘n dag van besinning en nadenke vir die regering, maar veral vir ons as jongmense te wees. Nie net oor die opofferings en heldedade wat die jeug in die verlede moes maak nie, maar ook watter opofferings en heldedade nog van ons geverg gaan word as ons ’n toekoms in ons geboorteland wil verseker.