Deur Alet Rademeyer
Die COVID-pandemie het ons wêreld en ons land kom verander. Nie ten goede nie. Vra maar vir enigiemand of hulle nou beter af is as voor die koms van Korona…
Die pandemie het almal se daaglikse bestaan en werkswyse kom verander. Miljoene mense moes vir die eerste keer van hul huise af begin werk terwyl reis in die algemeen vir etlike maande opgeskort is behalwe vir noodsaaklike werkers.
As daar nou een groep mense is wat die afgelope maande waarskynlik nog harder deur die virus en die drakoniese optrede van die ANC-regering geraak en benadeel is, dan is dit ons boere.
Uit die staanspoor moes hulle sukkel met permitte net om hul werk te kan doen en kos te produseer. Daarna is ’n verbod op die uitvoer van hul produkte soos tabak en wyn geplaas. In ’n stadium is veilings ook verbied. Die land se boere het miljarde rande se verliese gely.
Asof dit nie erg genoeg was nie, het hul lewensomstandighede op plase, wat hul veiligheid en beskerming betref, ook in hierdie tyd verder versleg. Misdadigers en moordenaars is nie deur COVID afgeskrik nie. Veediefstal en inbrake op plase het nie afgeneem nie. En die aanslag op boere en hul gesinslede se lewens nog minder.
Soveel boere en hul gesinslede is sedert die begin van staat van inperking op hul plase aangeval, gemartel, geskiet of wreed vermoor. ’n Mens kan maar net dink aan die verskrikking en hartseer waardeur die gemeenskappe en naasbestaandes van slagoffers van Hartswater, Dendron, Weenen, Alexandria en Potchefstroom, om maar ’n paar te noem, die afgelope maande is.
En steeds het pres. Cyril Ramaphosa en sy regering nie ’n vinger verroer om hierdie weerlose en uitgelewerde groep mense op enige wyse by te staan nie. Inteendeel, Bheki Cele, minister van polisie, en ander amptenare het dit goed gedink om in hierdie ontsettend moeilike tyd die werksaamhede van plaas- en buurtwagte ook aan bande te lê. En daarmee is boere net nog meer van ’n teiken gemaak.
Die aanvalle en aanslag op die landbougemeenskap het buite beheer geraak en onhoudbaar geword. Tydens die staat van inperking het opposisiepartye en burgerregte-organisasies soos AfriForum opnuut geëis dat Ramaphosa iets aan hierdie onmenslikheid en krisis móét begin doen.
Die algemene publiek is ook tydens die staat van inperking opnuut geruk oor die vergrype teen boere. Ten minste twee groot protesoptogte is gehou waar mense hul misnoeë te kenne gegee. Daar was ’n optog in Pretoria in Julie en in Augustus het letterlike duisende boere en gemeenskapslede in Naboomspruit met bakkies, trekkers en ander plaasimplemente ’n kragtige boodskap teen plaasmoorde uitgestuur en geëis dat die moordenaars van Alwyn van Zyl nie borgtog kry nie.
AfriForum en Pretoria FM het ook in Julie ’n biduur teen plaasmoorde en aanvalle gehou waaraan derduisende mense deelgeneem het.
Suid-Afrika se boere is ’n buitengewone groep mense. Hulle leef vir hul grond en hul grootste strewe en doelwit is om kos te produseer. Hulle is baie, baie taai en hardwerkende mense. Maar mense wat ook net tot sover gedruk, verneder en verbrysel kan word. Ons boere het elkeen van ons se ondersteuning en gebede nou meer as ooit in die geskiedenis van die land nodig.