AfriForum se aansoek teen die Minister van Finansies word op 18 Mei 2021 in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria aangehoor. AfriForum vra ’n hofbevel aan om Tito Mboweni, Minister van Finansies, te verplig om sy diskresie te gebruik ingevolge artikel 3 van die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid 5 of 2000 deur alle staatsorgane wat goedere en dienste aankoop wat met die vaksineringsprogram verband hou van alle vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) vry te stel.
Dit is in openbare belang dat die aankoop van vaksines van SEB-vereistes vrygestel word. SEB vertraag die proses beduidend, verhoog dienskoste en verhoed maatskappy wat nie aan SEB-vereistes voldoen nie om aan die tenderproses deel te neem. Boonop is daar prima facie-bewyse van verreikende korrupsie wanneer tender- en aankoopprosesse ter sprake is.
“Dit sê baie dat die ANC – selfs wanneer lewens bedreig word – steeds aan sy beleide van sistemiese rassisme soos SEB getrou is. Hierdie is geen onskadelike politiek nie; dit is ’n gevaarlike speletjie met dodelike, werklike gevolge. Die Minister van Finansies is verplig om hierdie tipe rasse-inmenging te voorkom en tussenbeide moet tree om ’n einde hieraan te maak,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.