Die Suid-Afrikaanse regering se besluit en pogings om van die Statuut van Rome en gevolglik ook van die Internasionale Strafhof te onttrek, sal ʼn terugwaartse stap op die terrein van menseregte wees.
Só meen Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum.
Bailey en politieke ontleders het gereageer nadat dit aan die lig gekom het dat Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, glo ’n sogenaamde Instrument of Withdrawal onderteken het waarin die Verenigde Nasies (VN) formeel in kennis gestel is dat ’n onttrekkingsproses van stapel gestuur is.
Sy het gesê dit is nog onduidelik of die departement van internasionale betrekkinge en samewerking alleen die reg het om die ratifikasie op te hef en of die toestemming van die parlement ook nodig is. “Hoe dit ook al sy, AfriForum staan die proses teen en ondersoek wyses waarop die deurvoer daarvan voorkom kan word.”
Volgens Bailey is die tweespalt tussen die hof en die regering op ʼn spits gedryf toe laasgenoemde geweier het om die omstrede menseregteskender en president van Soedan, Omar al-Basjir, in 2015 tydens sy besoek aan Suid-Afrika in hegtenis te neem en aan die Strafhof uit te lewer. Die voorval het die land in omstredenheid gedompel en ter verdediging is deur die regering aangevoer dat die hof teen Afrika-leiers diskrimineer. “Die Strafhof het nog betreklik min sake in sy bestaan afgehandel, maar daaruit kan duidelik gesien word dat ʼn onskuldige leier – van watter kontinent ook al – min te vrees het,” het sy gesê.
Bailey het voorts gesê daar word toenemend op buitelandse platforms gesien hoe Suid-Afrikaanse regeringsverteenwoordigers kant kies ten gunste van lande met bedenklike menseregterekords. Volgens haar verbeeld die onttrekking uit die Strafhof die regeringskultuur van ʼn gebrek aan aanspreeklikheid, waarvan die rampspoedige gevolge ook binnelands gesien word.
“In ʼn tyd van ekonomiese uitdagings en interne onstabiliteit behoort die fokus van die owerhede juis die bevordering van ʼn kultuur van aanspreeklikheid (binne en buite Suid-Afrika), asook die uitbou van beleggings en verhoudings met gerespekteerde internasionale vennote te wees,” meen sy.
“Daarteenoor is ’n onttrekkingsproses uit die statuut en die hof net nog ʼn tree terug vir Suid-Afrika na die status as ʼn “muishond van die wêreld”.
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, meen Suid-Afrika se voorneme om te onttrek, hang saam met die taktiek van pres. Jacob Zuma en die ANC-regering wat poog om die regbank te ontduik.
Hy het gesê met die besluit wys Suid-Afrika dat hy hom toenemend skaar aan die kant van state wat hulle skuldig maak aan ernstige mensevergrype. Dit vind ook neerslag in Suid-Afrika wat assosieer met lande soos China, Noord-Korea, Rusland en Kuba. “Dit wys die oppergesag van die reg is nie vir ons meer prioriteit nommer een nie.”
Duvenhage meen dit kan ook gesien word teen die agtergrond van die groter politieke konteks in die land as mens kyk na wat tans by die land se universiteite uitspeel en waar al hoe meer stemme en pleidooie opgaan vir dekolonialisering en die wegdoen met Westerse waardes en praktyke. “Suid-Afrika neig al hoe meer na die revolusionêre en weg van die klassieke Westerse konteks. Dit het ernstige implikasies vir die land en kan daartoe lei dat hy hom weer in ’n posisie van isolasie kan bevind soos tydens die apartheidsjare.”
Prof. Dirk Kotzé, dosent in politieke wetenskap aan Unisa, is minder oortuig dat Suid-Afrika dit sal regkry om uit die Strafhof te onttrek.
Hy meen daar is ’n groot meningsverskil binne die ANC oor so ’n besluit en boonop neem dit langer as ’n jaar om dit te doen. Hy het verwys na Burundi wat ook so ’n proses begin het.
Kotzé het gesê indien Suid-Afrika wel wil onttrek, kan hy nie wegkom van die vroeëre dilemma rondom al-Bajir nie. Onttrekking kan nie terugwerkend werk nie. Alles wat tot en met toe gebruik het, bly van krag.
Nog ’n rede waarom hy meen dit nie sal realiseer nie, is omdat Suid-Afrika een van die grondleggers van die Statuut van Rome was. “As ons onttrek, sal dit gesien word dat ons nie ernstig is oor ernstige skendings van menseregte nie.”