AfriForum het op 11 Desember klagtes van bedrog en korrupsie teen twee maatskappye by die SAPD in Nelspruit aanhangig gemaak. ’n Grondtransaksie van R34 miljoen het aanleiding daartoe gegee nadat nadere ondersoek ingestel is.
Die plaas Biggar 644JT gedeelte 1 is in September 2011 vir die bedrag van R12 miljoen aan Bongiveli verkoop. Daarna het Bongiveli dié stuk grond in Januarie 2017 vir R15 miljoen aan Vantiblox verkoop. In Maart 2020 het Vantiblox die grond weer op sy beurt aan die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit verkoop teen ’n bedrag van R34 miljoen. Die aktenommers van die transaksies volg ook net ná mekaar, wat daarop dui dat die grond nooit aan Vantiblox oorgedra is tot ná die herverkoop daarvan aan die munisipaliteit plaasgevind het nie.
“Hierdie transaksie maak glad nie sin nie, veral nie as die belastingimplikasies van só ’n oordrag in ag geneem word nie. Dit blyk bloot asof die transaksie slegs gemaak is om Bongiveli se betrokkenheid te verdoesel,” sê Chris Gouws, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.
Nadere ondersoek deur die privaatvervolgingseenheid het egter aan die lig gebring dat Bongiveli by ’n bedrogsaak betrokke is waar meer as R24 miljoen van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in soortgelyke transaksies verloor is.
Volgens ’n artikel in The Sowetan het Bongiveli die plaas Rietfontein (414 ha) buite Ermelo in Mpumalanga by Fremax Farms vir R11,9 miljoen aangekoop en dit ses minute later aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling vir R36,4 miljoen verkoop het.
Bongiveli se direkteure het reeds in die hof verskyn en is tans uit op borgtog van R10 000 in verband met die Rietfontein-saak.
“AfriForum sal die saak deurlopend moniteer en indien die staat nie die saak verder wil voer nie, sal ons privaatvervolgingseenheid aansoek doen om die betrokke persone privaat te vervolg,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.