Die hofbevel wat AfriForum en AfriSake op 7 Maart 2017 teen Julius Malema, leier van die EFF, verkry het is uiteindelik op 30 Maart 2017 persoonlik op Malema beteken.
Die interdik is teen die EFF en Malema verkry om hulle te verhoed om op 6 April 2017 landwyd onwettige grondgrype te inisieer.
Dit het geblyk onmoontlik te wees om die interdik by die EFF-kantore op Malema te beteken. Lede van die EFF het die balju op 23 Maart 2017 tydens ’n onsuksesvolle poging om die interdik te beteken, meegedeel dat Malema eers ná 6 April 2017 weer op kantoor sou wees. AfriForum en AfriSake se regspan het egter in die media verneem dat Malema op 30 Maart 2017 sy opwagting by die Konstitusionele Hof sou maak en het spoedig opgetree.
Volgens Tarien Cooks, veiligheidskoördineerder van AfriForum, is dit belangrik dat die bevel persoonlik beteken is.
“Die enigste manier om bo redelike twyfel te bewys dat Malema van die bevel bewus is, was om dit persoonlik op hom te beteken. Dit maak dit moontlik om hom van minagting van die hof aan te kla indien hy die bevel voortaan doelbewus oortree.”
Volgens Armand Greyling, regs- en beleidsanalis verbonde aan AfriSake, is dit ironies dat die balju die bevel wat verhoed dat Malema grondeienaars se grondwetlike regte skend, by die Konstitusionele Hof moes beteken.