Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering in die parlement, was vandag terug in die Potchefstroomse Streekshof op ses aanklagte van dieremishandeling en -verwaarlosing. AfriForum se Privaatvervolgingseenheid is besig om Modise namens die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV) te vervolg.
Dr. Sameer Abbas en Tebogo Mokaedi het vandag getuig oor die haglike omstandighede op Modise se plaas in 2014 toe die plaaslike DBV ingetree het ná honderde diere op Modise se plaas dood is. Abbas, ’n veearts van Potchefstroom, het gesê by sy aankoms op die plaas was die diere, wat nog geleef het, basies net “vel en been”. Mokaedi het vir omtrent twee maande op Modise se plaas gewerk, maar is met die uitsondering van ’n enkele betaling van R200 nie vir sy werk betaal nie. Hy het uiteindelik die pad gevat toe hy nie meer kos gehad het om te eet nie. Teen hierdie tyd was ’n klomp diere reeds dood met nog ’n klomp wat reeds so uitgehonger was dat hul kanse op oorlewing uiters skraal was.
Die saak hervat môre.