President Ramaphosa se verbeeldinglose toespraak, waarin hy vlak 3-inperkings aangekondig het, maak dit duidelik dat doeltreffende vroeë behandeling en voorkoming met behulp van heraangewende medisynes soos ivermektien steeds nie op die regering se agenda is nie. Dít ten spyte daarvan dat oorweldigende wetenskaplike bewyse bestaan dat dit lewens kan red en infeksies kan voorkom – boonop op bekostigbare wyse.
“Die data wys dat inperkings wat ondernemings en werksgeleenthede vernietig nie ’n noemenswaardige impak op die verloop van infeksies het nie. Die tyd het aangebreek dat die regering ook ander oplossings in werking stel om die COVID-19-pandemie die hoof te bied. Voorkoming en vroeë behandeling met ’n kombinasie van medisynes, wat ivermektien insluit, kan infeksie voorkom, verhoed dat hospitale onder druk geplaas word en kan ook lewens red. Ons moet gelyklopend verskillende stappe doen om COVID-19 te beveg – stappe wat daarop gemik is om nadelige gevolge vir die ekonomie te voorkom” sê Barend Uys, hoof van navorsing by AfriForum.