Deur Dr Eugene Brink, Strategiese Adviseur vir Gemeenskapsake by AfriForum
Die Amerikaanse presidentsverkiesing is meer as ’n jaar weg, maar baie gaan nog in daardie jaar gebeur en die stryd in die Demokratiese Party is reeds vuurwarm. President Donald Trump dryf ook reeds sy herverkiesing met oorgawe.
Etlike debatte is al tussen ’n magdom Demokratiese kandidate gehou en wat al daaruit voortgespruit het, is om van naar te word. Behalwe vir enkele uitsonderings (soos Joe Biden wat meer sentristies in sy ideologiese beskouings is) probeer elkeen meer sosialisties as die volgende een wees. Leuens en skynheiligheid floreer. Die sakesektor en rykes word pal verdag gemaak en sukses ̶̶ iets wat histories aanbid word in die VSA ̶̶ is heiligskennis onder hierdie klomp.
Dit is ongelooflik hoe soveel ryk mense wat as individue niks vir die armes doen nie, so oordrewe empaties voorkom en gretig is om ander mense (veral die middelklas) se geld deur middel van staatsinmenging te herversprei. En dan die vermetelheid te hê om in so ’n sterk ekonomie met ongekende lae werkloosheid aan te voer dat als ver tekort skiet!
Op die keper beskou en ondanks die groot aantal kandidate wat met hernieude linkse energie vir Trump wil aanvat, blyk dit asof hierdie wedloop een van drie (en toenemend moontlik slegs twee) wenners gaan hê. Die jonger en minder bekende kandidate is besig om op te gee en die res het nie juis steunbasisse of aansien om van te praat nie. In die politiek is persoonlikheid net so belangrik soos beleid en hierdie groep kandidate gaan nie maklik die soort skares trek wat Trump nou al ̶̶ selfs in liberale “blou” state soos Nieu-Mexiko ̶̶ byeenbring nie.
Biden is aanvanklik as die onbestrede gunsteling beskou en is tot ’n groot mate steeds die gunsteling, as ’n mens die peilings kan glo. Hy is matig en kan straks vir Trump die beste onder onbesliste en matige kiesers, asook wit blouboordjiewerkers, aanvat. Hy was al visepresident, word beskou as ’n veteraan as dit by buitelandse beleid kom en geniet die beste steun onder swart kiesers. Hy was al twee keer vantevore (1988 en 2008) ’n (onsuksesvolle) kandidaat om die Demokratiese Party in ’n verkiesing te lei.
Die ander twee is Elizabeth Warren en Bernie Sanders. ’n Paar maande gelede was Sanders gemaklik in tweede plek. Sedertdien het Warren in sekere peilings heelwat nader aan Biden begin beweeg en hom selfs begin oortref. Biden en Warren het Sanders begin agterlaat en sy steun het heeltemal gestagneer.
Daar is baie redes hiervoor, maar dis nie te moeilik om te verklaar nie. Warren en Sanders hang heelwat van dieselfde beleide aan, maar styl en geskiedenis speel ook ’n rol. Net soos in 2016, skree Sanders soveel dat hy permanent kwaad lyk. Sy ver-linkse ideologie vind nie wyd aanklank onder die meeste Amerikaners nie. Hy lyk tewens verfomfaai en dit kom ontsaglik onpresidensieel voor.
Warren het terselfdertyd heelwat van Trump se ekonomiese beleid oorgeneem met haar doktrine van “ekonomiese patriotisme” – wat sinoniem is met “Gemaak in Amerika” met ’n omgewingsvriendelike geur. Sy wil werkgeleenthede teruglok na Amerika en handel in die VSA se guns swaai. Hiermee saam is sy sosiaal baie liberaal en steun aborsie sterk. Ongelukkig vir haar gaan die meeste Amerikaners Trump eerder vertrou om China aan te vat en die ekonomie te bestuur terwyl hulle eerder sy standpunte oor aborsies en ander sosiale kwessies sal steun. ’n Voordeel van Warren is egter dat sy net meer verkiesbaar voorkom as veral Sanders en nie ’n geskiedenis van mislukking op hierdie vlak het nie.
Die wiele is ook besig om van Biden se veldtog af te kom. Die 76-jarige veteraan raak strykdeur belaglikhede kwyt. Trouens, hy is al sy hele loopbaan daarvoor bekend, maar dit is besig om verregaande afmetings aan te neem. “Arm kinders is net so begaafd soos wit kinders” en die feit dat sy ekonomiese plan 720 miljoen vroue deel van die werkmag sal maak (terwyl daar slegs 330 miljoen mense in Amerika is), is net twee van die menige voet-in-die-mond-opmerkings wat hy onlangs gemaak het.
Soos ras altyd iewers ’n rol speel in sulke stryde, is ouderdom deesdae ’n pertinente besprekingspunt. Biden is 76 en Sanders 78, terwyl Warren vanjaar 70 geword het. Al die voorlopers is dus bo 70 (Trump is 73), maar Biden en Sanders sal byna 80 wees indien hulle president word. Oudpresident Jimmy Carter het onlangs aangevoer hy sou nie die eise van die presidensie op 80 kon baasraak nie en spottenderwys die hoop bygevoeg dat daar ’n ouderdomsbeperking op die presidensie is – ’n nie-so-subtiele stekie na Biden se vergeetagtigheid en blapse.
Dit is om al hierdie (en nog ’n klomp ander) redes dat ek glo Warren hierdie wedloop sal wen en die een gaan wees wat vir Trump gaan aandurf in die presidensiële verkiesing.