Deur: Annelise de Vries en Jhua-nine Wyrley-Birch
Anton Rupert, die legendariese Afrikaanse sakeman en entrepreneur, het gesê die persoon wat nie droom nie, is nie ʼn realis nie.
Die pad na suksesvolle entrepreneurskap is ʼn moeilike een, maar Suid-Afrika is immers ʼn land van mense met planne. Die grootste denkfout wat Suid-Afrikaners egter maak, is om bang te wees om te sê hulle wil ryk word, meen die ekonoom Mike Schüssler.
“Alles is moontlik as ’n mens kreatief en groot dink. Wie uithou en aanhou, kan sukses behaal.”
Suid-Afrika het entrepreneurs nodig soos nog nooit tevore nie en hoewel kenners meen dat die verband tussen taal en ekonomiese vooruitgang kompleks is, stem akademici saam dat taalgemeenskappe wat in hul eie tale investeer, ʼn daadwerklike bydrae maak in die ekonomiese waarde wat aan die spesifieke taal geheg word.
Linguiste argumenteer dat taal die grondslag vir ekonomiese vooruitgang lê en dat daar spesifieke industrieë is waar taal as ʼn belangrike bemarkbare kommoditeit bestempel word.
Die toerisme- en versekeringsbedryf is maar net twee voorbeelde van dié industrieë.
Prof. Vic Webb, dosent in linguistiek en direkteur van die Universiteit van Pretoria se sentrum vir taalpolitiek (CentRePol), skryf dat dit veral van toepassing is op toerisme in Suid-Afrika danksy die land se ryke verskeidenheid van tale en kulture.
Webb verduidelik verder dat taal ook ʼn belangrike rol in die versekeringsbedryf en verwante industrieë speel omdat versekeraars die sosiologie van verbruikers moet verstaan om ʼn produk te bemark wat in die verbruikers se behoeftes voorsien.
Taal speel ook ʼn beduidende rol in Suid-Afrikaanse entrepreneurskap.
Luidens ’n opname in 2017 van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) is 14% van die land se bevolking wat 15 jaar en ouer is, Afrikaanse huistaalsprekers. Altesame 23% is Zoeloe-huistaalsprekers en 15% is Xhosa-huistaalsprekers.
Dié verslag het verder getoon dat entrepreneurskap in Suid-Afrika vanaf 2015/16 tot 2016/17 met ongeveer 34% gegroei het. Daar is voorts bevind dat daar in 2013 altesame 1 517 ondernemings in die informele sektor was. Hiervan was 308 minder as ’n jaar terug gestig.
Wat die internasionale entrepreneurskapindeks betref, was Suid-Afrika in 2016 in die 52 ste plek. Dié indeks meet die gehalte en omvang van entrepreneursaktiwiteite in 132 lande.
Volgens die Global Entrepreneurship Monitor (GEM), waar 400 navorsers 66 wêreldekonomieë meet, is bevind dat 72% van Suid-Afrikaners meen entrepreneurskap is ʼn goeie loopbaankeuse.
Hieruit kan afgelei word dat entrepreneurskap in Suid-Afrika groei. Dit is nie ʼn vreemde verskynsel as daar na die geskiedenis gekyk word nie. Vanaf 1939 tot 1950 het die getal Afrikaanse ondernemings van 3 710 tot 13 047 toegeneem. Vanaf 1948/49 tot 1954/55 het die aantal Afrikaanse ondernemings, landbou uitgesluit, met 40% gegroei.
“Sprekers van alle inheemse tale in Suid-Afrika moet nou aangemoedig word om voordeel te trek uit die groeiende entrepreneurslandskap”, sê Sanderien van der Walt, projekkoördineerder van AfriVriendelik.
Ook Mmusi Maimane, leier van die DA, meen entrepreneurskap hou groot voordele vir die land in. Hy meen dat in plaas daarvan dat die regering probeer om 5 miljoen werkgeleenthede te skep, die land eerder by 1 miljoen nuwe entrepreneurs sal baat. Die DA-regering in die Wes-Kaap het selfs administratiewe prosesse vereenvoudig om dit makliker te maak om ‘n sakeonderneming te registreer wat aan wetgewing voldoen.
Nóg ʼn inisiatief wat die stigting van sakeondernemings maklik maak en in ʼn inheemse taal bedryf word, is Afrikaans-Vriendelik. Dié veldtog het ten doel om entrepreneurskap in Afrikaans te bevorder deur gratis bemarking aan Afrikaanse ondernemings en diensverskaffers te bied. Dit is in 2016 bekend gestel en trek vandag ʼn nuwe baadjie aan.
Afrikaans-Vriendelik word een van vyf inisiatiewe van AfriVriendelik. Ander inisiatiewe sluit in ʼn aanlynkletskamer vir AfriForum-lede en entrepreneurs, bemarkingsopleiding, die jaarlikse Tinteltong toekennings asook ʼn entrepreneurskompetisie.