Deur dr Eugene Brink, Strategiese Adviseur vir Gemeenskapsake by AfriForum
Ek het onlangs twee hospitale in ’n boerderydorp in landelike Limpopo besoek as deel van AfriForum se rol as waghond oor gesondheidsake. Hierdie hospitale – die een privaat en die ander openbaar – is naby mekaar geleë, en tog kon my belewenis van albei nouliks meer uiteenlopend wees. As ek by Charles Dickens kan leen, dit was “’n verhaal van twee hospitale”.
By die privaat hospitaal is ons begroet met aanvanklike skeptisisme (toegegee, die burgerlike samelewing bring nie dikwels onaangekondigde besoeke aan enige van die hospitale in die gebied nie), wat gou-gou omgeskakel het in vriendelike betrokkenheid en openhartigheid. Die sekuriteitswagte by die hek het onmiddellik geweet na wie ons moes gaan en was hulpvaardig in elke opsig. Een van die bestuurders het ons op ’n omvattende toer deur die hospitaal geneem. Dit was nie vir ons nodig om te vra om enigiets spesifieks te sien nie, en hulle het klaarblyklik niks gehad om weg te steek nie. Alles word onberispelik in stand gehou, personeellede is hoflik, kundig en professioneel, en ’n paar pasiënte met wie ons gesels het, was almal baie tevrede met die diens wat hulle by dié hospitaal kry.
Tydens my gesprek met die uitvoerende hoof van die privaat hospitaal het hy ’n paar uitdagings geopper wat ek ook in gesprekke by ander privaat hospitale gehoor het. Reeds in 2017 is daar aansoek gedoen om die hospitaal te vergroot om vir meer beddens en spesialisdienste voorsiening te maak, maar daar was nog geen terugvoer van die provinsiale gesondheidsdepartement nie. Hulle het reeds bykomende grond gekoop – die groter vraag bestaan beslis, en die hospitaal is bereid om die risiko te loop. Ongelukkig is die regering traag met goedkeuring van iets wat ’n geweldige voordeel vir die gemeenskap en die plaaslike ekonomie sal wees. Trouens, meer beddens, dokters en spesialiste is noodsaaklik vir die toekomstige gesondheidsbehoeftes van hierdie spesifieke dorp en die omliggende dorpe. En hoewel dit ’n privaat instelling is, dra hierdie hospitaal ook nog ’n beduidende las van bykomende pasiënte wanneer die openbare hospitaal se personeel staak – en selfs wanneer hulle nie staak nie.
Na afloop van hierdie besoek het ons na die openbare hospitaal ’n paar blokke verder gery, en die kontras was onmiddellik merkbaar. Die hospitaal se ingang lyk vervalle en ons is deur verskeie fronsende, nors wagte gekonfronteer. Hoekom daar so baie wagte is om geringe takies te verrig – terwyl die ingang so droewig lyk – is oop vir bespreking en is ’n ernstige vraag. Ons is met niks anders nie as vyandigheid en skeptisisme begroet. Die eerste wag wat ek teëgekom het, was uiters kortaf en wou onmiddellik weet met wie ek ’n afspraak het. Ek kon ’n pasiënt gewees het, maar hy het blykbaar nie omgegee nie. Nadat ek vir hom gesê het wie ek is en dat ek net in die hospitaal wil rondkyk, het hy my met nog groter agterdog behandel en my motor etlike kere deursoek. Daarna het hy my en ’n kollega begelei na die afdeling vir mensehulpbronne (ons weet steeds nie hoekom hy dit gedoen het nie) en ons op verskeie ander plekke laat wag met streng instruksies om net daar te wag. Hy het klaarblyklik nie geweet wat hy doen nie en was nie vertroud met protokol wat hy teen dié tyd moes geken het nie. By elke plek was daar ’n ander persoon met ’n ander flou (selfs absurde) verskoning waarom ons nie in die hospitaal mag rondkyk nie.
Op die ou einde is ons daar weg sonder dat ons die meeste dele van die hospitaal gesien het, maar ons het genoeg gesien om ons te laat ril. Smerige vloere, stukkende vensters (party daarvan onsuksesvol met plastiek en kleefband toegeplak), ’n aaklige stank, lang toue pasiënte en ongeërgde personeel begroet jou by dié hospitaal. ’n Plaaslike dokter en apteker met wie ek vroeër daardie dag gesels het, het gesê dit is onwaarskynlik dat jy selfs antibiotika by hierdie hospitaal sal kry. Dít is waarheen ons belastinggeld gaan, en ons – as belastingbetalers – word nie eers toegelaat om in die hospitaal rond te kyk nie.
Die sekuriteitswag het ons fyn dopgehou en gevolg tot ons by die uitgang uitgery het. Terwyl ek wegry, het ek onwillekeurig gedink dat hierdie hospitaal simptomaties is van alles wat verkeerd is met die Suid-Afrikaanse regering en sy instellings. Die oorvloed werkers wat nie nodig is nie en die tekort aan werkers wat wel nodig is; omvangryke agteruitgang en verrotting; ’n algehele gebrek aan instandhouding; ’n siening dat die publiek vyande en dienaars is eerder as mense wat gehelp en tegemoetgekom moet word; ’n algehele gebrek aan aanspreeklikheid en deursigtigheid – die lys is eindeloos.
En natuurlik het ek gewonder hoe die nasionale gesondheidsversekering (NGV) geïmplementeer gaan word in die lig van alles wat verkeerd is met openbare hospitale soos dié een. In hierdie spesifieke dorp het jy nou darem nog keuses wat mediese behandeling betref. Mense ry baie kilometers verby talle openbare hospitale en klinieke om hierdie privaat hospitaal te besoek. As die privaat gesondheidsektor genasionaliseer word (dit is waarop die NGV eintlik neerkom), sal ons almal egter geen keuse hê nie as om van openbare instellings gebruik te maak. Diegene wat kan, sal emigreer en ’n steeds krimpende poel belastingbetalers agterlaat om die NGV-nagmerrie te befonds.
Hierdie twee gevallestudies het nogmaals ’n paar lesse by my tuisgebring: Los die privaat sektor uit om te sorg vir diegene wat kan betaal en vrywillig daar behandeling ondergaan, en verbeter die openbare gesondheidsektor omvattend om behoorlik te voorsien in die behoeftes van die armes. Dis ’n skreiende skande en tragedie dat die ANC dit nie kan insien nie.