Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy misnoeë uitgespreek nadat die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) van Suid-Afrika vandag die resultate van die 2015 Trends in International Mathematics and Science Study (TIMSS-toetse) bekengemaak het.
Luidens dié studie het Suid-Afrika in 2015 amptelik die tweede swakste in wetenskap en die swakste in wiskunde op die TIMSS-wêreldranglys gevaar.
In ʼn verklaring wat deur die departement van basiese onderwys uitgereik het, sê Angie Motshekga, minister van basiese onderwys dat sy “trots is dat ons ʼn toonaangewende deelnemer van die TIMSS is”, ondanks die feit dat lande soos Botswana, Egipte en Marokko beter as Suid-Afrika gevaar het. Sy het erken dat Suid-Afrika se punte laag is, maar meen dit het tog verbeter.
“Die feit dat Suid-Afrika so swak gevaar het, behoort geen rede tot vreugde vir Motshekga en haar departement te wees nie. Die bedenklike prestasie kan ook nie, soos sy aanvoer, aan boelies in skole en ’n tekort aan fondse toegeskryf word nie,” meen Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum.
“Hierdie situasie kan slegs beredder word indien die departement aanspreeklikheid vir die probleem aanvaar en ophou om die erns daarvan te ontken.”
Die TIMSS-studie word sedert 1995 deur die International Association for the Evaluation of Educational Achievement (IEA) aangebied en het ten doel om die wiskunde- en wetenskapkennis van leerlinge uit sowat 60 deelnemende lande te toets. Die IEA maak gebruik van prestasietoetse en vraelyste om die resultate van die TIMSS-studie te bepaal. ʼn Strategiese steekproefmetodiek wat op skole se provinsie, onderrigtaal en openbare of private status in ag neem, word gebruik.
Meer as 600 000 leerlinge het wêreldwyd aan die studie deelgeneem. Die TIMSS-verslag dui daarop dat talle lande se kurrikulums verander het, meer leerlinge topprestasies behaal het en dat die aantal dogters wat in wiskunde en wetenskap presteer, toegeneem het. Die verslag toon ook die toenemende invloed wat kuberboelies op kinders se prestasies gehad het.
Volgens die departement het sowat 12 500 leerlinge en 330 wiskunde- en wetenskaponderwysers uit 292 Suid-Afrikaanse skole deelgeneem.
Die TIMSS-studie toon dat Suid-Afrika tweede laaste gelys is vir gr.4-wiskunde, tweede laaste vir gr.8-wiskunde en heel laaste vir gr.8-wetenskap.
Volgens prof. Johan Engelbrecht, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Wiskunde Stigting, is die TIMSS-uitslae ʼn teken dat daar groot probleme in Suid-Afrikaanse onderwys is.
Hy het aan Forum Nuus gesê dat hoewel daar goeie onderwysers is wat gehalte-onderrig aan leerlinge gee, is dit belangrik dat die status van veral wiskunde- en wetenskap onderwysers verhoog moet word.
Hy meen ondanks die TIMMS-verslag se aanduiding dat meer onderwysers tevrede is met hul poste, moet meer gedoen word om kinders met potensiaal aan te moedig om onderwys te studeer. “Baie min leerlinge wat hoë prestasies in wiskunde en wetenskap behaal, aspireer om onderwysers te word. Ons moet die volgende geslag aanmoedig en oplei om die gehalte van dié onderrig in die land te verbeter.”
Ander onderwyskenners met wie Forum Nuus gepraat het, is van mening dat leerlinge se prestasie in dié sleutelvakke kan verbeter, indien onderwysers beter opleiding kry, hul vakkennis gereeld opgeknap en getoets word en daar van vroeg af ’n belangstelling in die vakke by kinders gekweek word. “Te veel kinders word van baie vroeg af wys gemaak dat wiskunde en wetenskap baie moeilik is en dit skrik hulle af.”
*Dit is hoe SA gevaar het in die TIMSS sedert 1995:
|